25 dae gelede
#KYK: Bongi lus vir Torsten
URAYASU, JAPAN - SEPTEMBER 23: Bongi Mbonambi of S
Bongi Mbonambi  ~ gallo images

NAGOYA. _ Bongi Mbonambi is uitgehonger om Saterdag hier in die Toyota-stadion in die beginspan vir Suid-Afrika op haker uit te draf.

Die 28-jarige haker van die Stormers handhaaf vanjaar ’n uitstekende peil. Hy het tot dusver voortreflike spel gelewer veral wanneer hy van die bank vir die Bokke aangewend is.

Toe hy Saterdag se nederlaag van 13-23 in die tweede helfte in die eerste game van die World Cup vir die Bokke teen die All Blacks opgekom, het hy ’n groot impak gemaak.

Die boorling van Bethlehem sien nou uit na die uitdaging om in die nr.2-trui teen Namibië uit te draf.  Saterdag gaan Mbonambi teen die deurwinterde haker Torsten van Jaarsveld te staan kom.

Van Jaarsveld het van 2008 tot 2013 in 73 games vir die Pumas in Suid-Afrika gespeel. Van 2014 tot 2018, het Van Jaarsveld 69 keer vir die Cheetahs uitgedraf, voordat hy laas jaar na Bayonne in Frankryk geskuif het.

Die oud-leerder van die Hoërskool Hendrik Verwoerd in Pretoria het sedert 2014 die Vrystaters in die Currie Cup aangevoer. Hy spog met 14 toetse vir Namibië.

Mbonambi het reeds 31 toetse agter sy naam. Hy het Maandag aan Son gesê hy het al baie teen van Jaarsveld te staan gekom en weet waartoe hy in staat is.

"Ja, ek het al teen hom (Van Jaarsveld) gespeel toe hy vir die Cheetahs gespeel het. Hy is ’n uitgeslape speler wat ook ervaring as kaptein van die Cheetahs het,” het Mbonambi gesê.

“Wanneer jy op kom wil jy graag ’n ander soort energie na die span bring. Ons was onder druk teen die All Blacks op die telbord, maar het steeds geglo dat terug kan veg.

“Dinge het nie altyd volgens plan verloop nie. Ons het ons lesse daarvan geleer. Wanneer ons weer in so ’n situasie is, sal ons graag beter wil vaar.”

Mbonambi was Maandag veral hartseer omdat sy goeie vriend en kamermaat van die World Cup weens ’n kuitbesering moes onttrek het.

“Ek was besig om hom goodbye te sê en sou hom help pak het. Ek moes egter my media verpligtinge nakom en kon hom ongelukkkig nie groet nie.

“Dinge soos dit gebeur. Dis deel van die sport. Trevor het regtig hard gewerk om te wees waar hy is en om die respek te hê wat almal hom gee. Hy gaan gemis word, nie net deur my nie, maar deur die hele span. Hy is die soort ou wat heeltemal ’n ander atmosfeer bring waar hy ook al inloop.

“Dit kan ’n ernstige vergadering wees, maar wanneer Trevor met sy spankelende smile in stap, maak hy vir almal glimlag. Ek sal hom mis as ’n spanmaat en ’n kamermaat. Ons het egter 'n World Cup waarop ons moet fokus,” het hy bygevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters