8 dae gelede
Bomb Squad ‘ontlont’
John Dobson  ~ Gallo Images

WORLD Rugby se beoogde verandering aan die reëls vir die getal plaasvervangers kan die Springbokke se krag ’n groot knou toedien.

Suid-Afrika se sukses in laas jaar se World Cup in Japan was geskoei op die slim manier hoe Rassie Erasmus, die Bok-breier, sy plaasvervangers aangewend het.

Impak

Erasmus het deurgaans deur die toernooi ses voorspeler- en twee agterspeler-plaasvervangers in sy groep van 23 spelers gekies.

Die Bokke se “Bomb Squad” het ’n geweldige impak in die tweede helfte van hul stryde gemaak en ’n groot rol gespeel in die Bokke se verowering van die Webb Ellis-beker.

Erasmus het in die eindstryd teen Engeland met ’n voorry van Beast Mtawarira, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe begin, wat die Engelse voorry pap geskrum het. In die tweede helfte het Erasmus ’n vars voorry van Steven Kitshoff, Malcolm Marx en Vincent Koch ingestuur, wat die Rose se stingels verder geknak het. Sodoende het die Bokke deurgaans die oorhand in dié aspek van die spel gehad.

World Rugby en veral Eddie Jones, afrigter van Engeland, wil nou hê die aantal plaasvervangers moet van agt na ses verminder word. Dit is glo om te verseker dat spelers in games uitgeput kan raak om meer spasie en geleenthede op die aanval te skep.

Die getal plaasvervangers is in die eerste plek na agt vermeerder om die aantal beserings te verminder. Dis egter duidelik dat dié beoogde nuwe reël voorgestel word om die groot krag van die Bokke te neutraliseer.

John Dobson, afrigter van die Stormers, het gister in ’n aanlyn konferensie aan Son gesê hy is bekommerd as die aantal plaasvervangers verminder word. Hy sal dan net spelers moet kies wat heeltyd met die bal kan hardloop.

“Ons sal die spelers met die krag verloor en rugby sal soos basketbal word,” het hy gesê.

“Die span wat dus die meeste hardloop, sal dus in die laaste 10 of 15 minute weghardloop met die game.

“Dit sal nie Suid-Afrikaanse rugby pas nie. Ons sal dus net spelers moet voorberei om te hardloop. Jy sal die krag en vaardigheid uit rugby verwyder. Rugby was altyd oor balans. Spelers soos ’n Frans Malherbe en Sergeal Petersen kan dus in dieselfde span speel.

Dobson sê verder daar is niks verkeerd met die huidige getal plaasvervangers nie.

“Omdat Suid-Afrika laas jaar voordeel daaruit getrek het in die World Cup, beteken dit nie dat ons nou skielik die hele game moet verander nie,” meen hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters