5 dae gelede
Bolanders jag ’n sege
Ferisco Adams  ~ Gallo Images

DIE Rocks se krieketspan, wat tot dusver ’n louwarm seisoen beleef, sal vandag die Titans harde klippe wil laat kou wanneer die spanne mekaar in ’n vierdagwedstryd in die Paarl pak.

Die Bolanders is ná drie rondes in dié kompetisie nog segeloos met twee van hul wedstryde wat op nederlae uitgeloop het. Hulle is verlede week op die Wanderers met ’n beurt verslaan en met ’n promosie/relegasie-sisteem wat in plek is, is dit krities dat die Rocks dié naweek ’n regstreekse oorwinning behaal.

Hulle beklee tans die 6de plek op die punteleer met slegs die Westelike Provinsie en Noordwes Dragons wat slegter vaar.

Om sake te vererger is hul staatmaker-kaptein en aanvangskolwer, Pieter Malan, tans in ’n vierdagwedstryd vir die SA A-span teen Indië A gewikkel. Boonop is sy broer, Janneman, in die Proteas-span vir sy eendagreeks teen Nederland ingesluit.

Kolflys

Laasgenoemde se plek word vandeesweek deur Ruan Terblanche ingeneem met Ferisco Adams wat weer vir Pieter Malan as kaptein sal instaan.

Stiaan van Zyl sal beslis voel dat hy die kolflys moet lei in die afwesigheid van die Malans. Hy het in sy twee wedstryde tot dusver nog net met twee tellings in die veertigs skrik gemaak.

’n Groot telling behoort dus op die radar te wees vir só ’n talentvolle kolwer.

Die naatbouler Ziyaad Abrahams is aan die Westelike Provinsie geleen en die ervare Kyle Abbott gaan die wedstryd weens ’n besering misloop.

Hardus Viljoen sal nes Van Zyl ook die geleentheid wil gebruik om op die voorgrond te tree.

Die draaiers Siya Mahima en Shaun von Berg is albei ingesluit.

ROCKS: Isma-eel Gafieldien, Cebo Tshiki, Ruan Terblanche, Stiaan van Zyl Christiaan Jonker, Shaun von Berg, Zakhele Qwabe, Clyde Fortuin, Siyabonga Mahima, Hardus Viljoen, Ferisco Adams

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters