Verlede maand
Boland sal moet opskerp
stormram: Tapiwa Tsomondo (Boland) beproef die Blou Bulle se verdediging.Foto’s: MARK WARD  ~ 

DIS maar altyd ’n moeilike taak vir die breier van ’n “kleiner unie” om met ’n Superrugby-franchise mee te ding, veral wanneer daardie mededinger die Blou Bulle is.

Die Boland-Kavaliers het Saterdag op Esselenpark in Worcester ’n aanduiding gegee­ van hul potensiaal in die Eerste Liga van die Currie­bekerkompetisie vanjaar, al was dit nou met rukke en stote.

Hulle het dié vriendskap­like wedstryd waarin die Bulle­ agt drieë gedruk het, met 19-59 (7-26) verloor.

Die afrigter van Boland, Randall Modiba, is ’n realis wat die mag van ’n span soos die Bulle met beperkte hulpbronne moet trotseer.

Modiba sê: “In wedstryde soos dié maak die telling nie saak nie.

“Ons het talle amateur­spelers speelkans gebied en hier en daar ’n bietjie geëksperimenteer.

“Daar lê beslis baie harde werk voor vir ons. Daar moet ook onthou word dat ons voor dié wedstryd ’n twee weke lange blaaskans gehad het.”

Oorheers

Die Bolanders is in alle fasette oorheers deur ’n span wat baie goed gekombineer het.

Die Bulle se verdediging was ook uitstekend. Hulle het Bolandse aanvallers wat in besit betrap is, etlike treë teruggevoer.

Modiba sê: “Die realiteit is, dié is ’n baie goeie Bul-span.

“Dat die spelers op die plaasvervangerbank so goed is soos dié in die beginspan, getuig van diepte.

“So, ek reken die Bulle se diepte het die verskil teen ons gemaak.”

Hy sonder egter sy kaptein en agsteman, Zandré Jordaan­, uit vir die uithalerspel wat hy teen ’n giftige teenstander gelewer het.

Modiba sê hy sal sy groep spelers voor die Eerste Liga-reeks versterk.

Hy het bekend gemaak dat hy die dienste van ’n ervare skrumskakel sal bekom.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters