9 dae gelede
Boland pak nie meer Junior Bokke
Randall Modiba  ~ Gallo Images

DIE Boland-Kavaliers se voorbereiding vir die komende Curriebeker Eerste Liga het ’n effense spoedwal getref.

Hul opwarmingswedstryd teen die Junior Springbokke, wat vir môre in Stellenbosch geskeduleer was, is afgestel.

Randall Modiba (hoofafrigter) se Kavaliers sal egter volgende week, nes laas week, in ’n oefenwedstryd teen hul eweknieë van die Westelike Provinsie speel.

Die Eerste Liga skop op 19 Junie af. Die Kavaliers geniet egter ’n loslootjie in die eerste ronde voordat hulle vir die Border Bulldogs in Wellington gasheer speel.

Silinders

Modiba is nogtans tevrede met hoe sy span se voorbereiding verloop.

“Ons groei en verbeter weekliks en werk hard om in ’n rekordtyd gereed te wees,” het hy gister aan Son gesê. “Die game time teen WP weeg tans swaarder as die uitslag. Die spelers het egter goeie tekens getoon en kan net mettertyd verbeter.

“Hulle weet ons het nog ’n pad om te loop as ons op alle silinders in die Curriebeker wil vuur, maar ons is op koers en het al die traction in laas week se WP game gesien wat op die oefenveld ingesit is.”

Die Kavaliers het die laaste twee weke skaflik vertoon in opwarm-wedstryde teen die Bulle, die WP se o. 20’s en die senior WP-span.

“Ek is redelik gelukkig met hoe ons groei as ’n groep. Ons is nou wel nie lank saam nie, maar die manne begin mekaar vind en verstaan.

“Hopelik kan ons die volgende paar weke gebruik om ons plan te verfyn,” aldus Modiba.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters