2 maande gelede
Bokser teen vegter by Emperors Palace
YSTERVUIS: Johnny Muller is ’n meedoënlose vegter.  ~ Getty Images

DIS die bokser teen die vegter wanneer die Pan Africa-ligswaargewig­titel op 19 Desember by Emperors Palace op die spel is.

Die onoorwonne Akani “Prime” Phuzi is ’n klassieke bokser wat sy titel teen die vegter Johnny Muller op die spel plaas.

Phuzi sou aanvanklik teen Chris Thompson geboks het, maar hy het hom weens ’n besering onttrek.

Dit het die weg gebaan vir Muller om te wys hy is steeds ’n faktor om mee rekening te hou. Die geveg, wat oor 10 rondes beslis sal word, kan ’n riller wees.

Phuzi geniet plaaslik hoë aansien, maar het nog net 11 gevegte agter die blad, terwyl Muller baie meer ervare is met 21 oorwinnings in 32 kragmetings waartydens hy 14 teenstanders uitgeslaan het.

Muller het ook al met Oleksandr Usyk en Thabiso Mchunu houe gewissel. Hy spog boonop met die prestasie dat hy tot dusver die enigste bokser is wat met Kevin Lerena kon afreken.

Lippe

Phuzi sal as die gunsteling deur die toue klim, maar moenie verbaas wees as Muller se dinamietvuiste hom skud nie.

Kenners lek reeds lippe af vir dié geveg. Dit kan saam met Kevin Lerena se kragmeting met die Amerikaner Patrick Ferguson die hoogtepunte van die aand wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters