13 dae gelede
Boksdatum: fans al gatvol gewag
IN SHAPE: Tyson Fury het intussen duidelik ’n paar kilo’s afgeskud.  ~ Getty Images

GATVOL, en nogmaals gatvol.

Dis waarskynlik die gevoel van die ganse wêreld oor die bokspromotor Eddie Hearns se alewige beloftes van “volgende week” wanneer An­thony Joshua en Tyson Fury se swaargewiggeveg ter sprake­ kom.

Hearns is Joshua se pro­motor.

Dis nou al etlike weke (nee, dalk maande), dat hy week ná week sê ’n aankondiging word “volgende week” gedoen.

En wanneer die volgende week aanbreek, is Hearns soos ’n ou langspeelplaat wat op dieselfde wysie vassteek en die aankondiging weer na “volgende week” verskuif.

Geen wonder Fury se promotor, Bob Arum, sê die “geveg is dood” nie.

“Ek belowe julle sal volgende week die aankondiging kry,” het Hearns opnuut aan Sky Sports gesê.

“Ek weet nie waar Arum daaraan kom nie.”

Hearns erken onderhandelinge was ingewikkeld, maar ontken dat die twee grotes nie meer vanjaar in die kryt sal klim nie.

“Die geveg is vir seker aan,” sê hy.

Intussen het Fury gesê hy wil vanjaar twee keer boks – of dit nou teen Joshua of teen enige iemand anders is.

Die Kaapse kenner Rob Fen­yes sê hy vind dit vreemd dat daar met só ’n groot geveg voete gesleep word.

Begeerte

In die verlede was promotors vinnig om die datum en venue bekend te maak – juis omdat hulle weet die wêreld sit en wag daarvoor.

Dit lyk ook ál hoe meer of die geveg in Saoedi-Arabië gaan plaasvind.

Joshua se begeerte – en herhaaldelike versoeke – dat die kragmeting in die Wembley-stadion in Londen gehou word, is skynbaar vinnig besig om stoom te verloor.

Covid-19 kan dalk die rede vir die vertraging wees, maar om week ná week beloftes oor die datum te maak – waarvan daar nog niks gekom het nie – is nie juis baie professioneel nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters