8 dae gelede
Bokke wil Kiwi’s pap skrum
terug: Lukhanyo Am speel glo weer senter.Foto: gallo images  ~ 

DIE Springbokke is gereed om die All Blacks dié naweek só te skrum dat hulle sal bid vir rustyd.

Hoewel die Bokke se Rugby Championship-veldtog die pad byster is, wil die manne weer op koers kom teen die beste span in wêreldrugby.

En Matt Proudfoot, die Bokke se skrum-ghoeroe, glo as hulle voorlangs reg­ruk, is die stryd halfpad gewonne.

Proudfoot sê: “Ek dink wedstryde tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland word gewoonlik beslis deur wie die basics reg doen.

“Daarom is die setpieces (skrums en lynstane) en afbreekpunte kritieke aspekte vir ons. Hulle het ’n fantastiese skrum, plaas jou lynstaan onder druk en val die voordeellyn aan.”

Proudfoot sê die Bokke is gereed om hul treurigheid dié naweek te oorkom en vir die volle 80 minute aan te skakel.

Hy sê: “Ons is vasbeslote om elke week te verbeter, en die pak voorspelers lek reeds hulle lippe af vir die uitdaging.

“Ons gaan tot ons sterk punte speel; hulle gaan dieselfde doen. Hulle het hul eie styl en ons ons s’n.

Bespiegel

“Dit maak nie sin om wat jy die laaste ses weke gedoen het, teen die All Blacks te verander nie.”

Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, maak sy span môre bekend.

Daar word reeds be­spiegel daaroor dat hy dit oorweeg om die buite­senter, Jesse Kriel, op regter­vleuel in te span. Lukhanyo Am kan dus terugkeer op buitesenter.

As Kriel geskuif word, beteken dit Cheslin Kolbe sal maar handjies gevou op die plaasvervangerbank moet sit en hoop hy word weer speelkans gebied.

Kolbe het sy debuut laas naweek teen die Wallabies gemaak. Hy het die beseerde Makazole Mapimpi in die nederlaag in Bris­bane vervang.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters