Verlede maand
Bokke trek sake klinies gelyk
Kaapstad; Springbokke span teen Britse & Ierse Lee
FISIEK: Willie le Roux (links) en Stuart Hogg vat mekaar vas.  ~ Peter Abrahams

DIE reeks tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus gaan komende naweek beslis word nadat Siya Kolisi se Bokke Saterdag die tweede toets oortuigend met 27-9 gewen het. 

’n Begeesterde tweede helfte poging het die knoop vir die Bokke deurgehak nadat hulle teen rustyd met 6-9 agter geloop het. Die derde toets Saterdag sal dan die reekswenner bepaal aangesien die besoekers die eerste toets met 22-17 gewen het. 

Jacques Nienaber, die Bokke se afrigter, sal in sy noppies wees met sy span se vertoning, veral in die tweede helfte toe hy alle aspekte van die wedstryd gedomineer het. Albei spanne het genadeloos ingeklim in die eerste helfte en daar was min te kies tussen die twee spanne in dié tydperk. 

Die Bokke se Handré Pollard (losskakel) en die Leeus se Dan Biggar (losskakel) het die telbord aan die rol gehou met albei spanne wat hoofsaaklik die ander se foute wou uitbuit. 

Pieter-Steph du Toit (flank) is vroeg deur Duhan van der Merwe gelak (waarskynlik onwettig) wat die Wêreldrugby Speler van die Jaar minute later genoop het om die veld te verlaat. 

Van der Merwe is kort daarna wel na die koelkas gestuur weens ’n ander oortreding. Suid-Afrika kon egter nie hul numeriese voordeel benut nie.

Cheslin Kolbe het hom oomblikke later by Van der Merwe langs die kantlyn aangesluit nadat hy vir Stuart Hogg in die lug gespeel het. 

Die gemoedere het deurgaans vlamgevat terwyl die twee spanne probeer om fisiek die oorhand te kry. Biggar het drie strafdoele in die eerste helfte oorgeklits teenoor die twee van Pollard. Die rustydtelling was 9-6 in die guns van die besoekers. 

Die Bokke het kort daarna die voorsprong herwin toe Makazole Mapimpi sy vyftiende toetsdrie gaan druk het ná ’n skitterende skopaangee deur Pollard.

Laasgenoemde het egter die doelskop gemis, wat die telling op 11-9 in die guns van die tuisspan gebring het. Die gang van die wedstryd het verander toe Lood de Jager (reserwe-slot) ’n lynstaanbal van die Leeus gewen het.

Ná volgehoue druk in die Leeus se gebied - én met die voordeel van ’n strafskop as versekering – het Lukhanyo Am (buitesenter) gaan afrond ná ’n rolskop deur Faf de Klerk (skrumskakel). 

Die tuisspan het daarna sake gedomineer en hoofsaaklik in die Leeus se gebied gespeel. 

Die Bokke se bomb squad het ook ’n wesenlike verskil gemaak met die reserwe-voorry van Trevor Nyakane, Malcolm Marx en Vincent Koch wat die Leeus in die skrums oorrompel het. 

Pollard se skopskoen het die besoekers verder onder druk gesit en danksy die Bokke se dominansie in die tweede helfte was die telling eintlik ’n ware weerspieëling van die gebeure van die aand. 

Die reeks het ’n derde en beslissende toets verdien en dis presies wat rugbyliefhebbers volgende Saterdag gaan kry. 

Puntemakers: 

SUID-AFRRIKA - drieë: Makazole Mapimpi en Lukhanyo Am; strafdoele: Handré Pollard (5); doelskoppe: Pollard (1) 

LEEUS - strafdoele: Dan Biggar (3) 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters