7 dae gelede
Bokke kies Orie, Nyakane
PRETORIA, SOUTH AFRICA - JULY 02:  Marvin Orie of
GROOT KANS: Marvin Orie is Saterdag Eben Etzebeth se slotmaat teen die Wallabies.  ~ Roger Sedres

MARVIN Orie en Trevor Nyakane moet nou help om regmaak waar die Springbokke Sondag teen die Wallabies drooggemaak het. 

Jacques Nienaber, Springbok-afrigter, het die versoeking weerstaan om grootskaalse veranderinge aan sy span te maak wat Saterdag vir die tweede keer teen Australië te staan kom in die Rugby Championship. 

Die insluiting van Orie as Eben Etzebeth se slotmaat sal wel die wenkbroue laat lig. Orie vervang vir Lood de Jager wie van harsingskudding moet herstel en nie verkiesbaar vir dié kragmeting is nie. 

Nyakane kom op loskopstut in vir Steven Kitshoff, met laasgenoemde wat Ox Nché se plek op die plaasvervangerbank oorneem. 

Weens De Jager se afwesigheid, sit die Bokke weer sonder 'n slot op die plaasvervangerbank. Dit beteken Franco Mostert (steelkantflank) sal weer moet 80 minute speel en vir die slotrol instaan as die Bokke se taktiek op die dag dit versoek. 

Dié naweek se wedstryd word in Brisbane (Suncorp Stadium) beslis. 'n Stadion waar die Bokke oor die jare heen nie groot sukses beleef het nie. 

Nienaber is egter vol vertroue dat sy span met 'n beter poging vorendag sal kom en die keer wys waarom hulle die wêreldkampioen en verdedigende titelhouer van die Rugby Championship is.

"Australië was laas week 'n desperate span en dit is bewys in die manier waarop hulle gespeel het, het Nienaber gesê. 

"Daar is geen twyfel dat daai uitslag hulle selfvertroue gegee het, so ons verwag dat hulle weer 'n soortgelyke vertoning die week sal insit. 

"Ons weet waartoe ons as span in staat is, en ons het genoeg kanse gehad om laas week te wen, maar kon nie kapitaliseer nie. Ons vertrou ons sisteem en struktur en nou moet ons effektief wees in die uitvoer van ons plan." 

"Ons verwag die wedstyrd om weer 'n arm druk te wees, ons is gereed vir die uitdaging."   

Die Springbokspan is: 15. Willie le Roux, 14. Sbu Nkosi, 13. Lukhanyo Am, 12. Damian de Allende, 11. Makazole Mapimpi, 10. Handré Pollard, 9. Faf de Klerk, 8. Duane Vermeulen, 7. Franco Mostert, 6. Siya Kolisi (kaptein), 5. Marvin Orie, 4. Eben Etzebeth, 3. Frans Malherbe, 2. Bongi Mbonambi, 1. Trevor Nyakane. BANK: 16. Malcolm Marx, 17. Steven Kitshoff, 18. Vincent Koch, 19. Marco van Staden, 20. Kwagga Smith, 21. Jasper Wiese, 22. Herschel Jantjies, Damian Willemse.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters