6 maande gelede
Bokke kan World Cup in 2023 ook wen
KAMPIOEN: Siya Kolisi en sy span spog met die world cup.  ~ Gallo Images

DIE Springbokke het ’n goeie kans om weer die Rugby World Cup te wen.

Dít is die mening van die voormalige Springbok-kaptein Jean de Villiers nadat die loting vir die rugbyskouspel van 2023 in Frankryk gister in Parys bekend gemaak is.

As die verdedigende kampioen en die span wat in die eerste plek op die wêreldranglys is, is Suid-Afrika een van vyf spanne in groep B vir die 2023-toernooi.  Die ander vier spanne is Ierland, Skotland en twee uit Asië, die Pasifiese Eilande en Europa wat nog moet kwalifiseer.

“Ek glo Suid-Afrika het ’n goeie kans om die World Cup suksesvol te verdedig.

“Teen 2023 gaan die meerderheid van laas jaar se World Cup-wenners nog baie jonk wees.”

De Villiers meen die sewesspelers wat tans vyftienman-rugby speel, bring ’n heel nuwe dinamika na die tradisionele benadering van die Bokke.

“Benewens ’n gevestigde speler soos Cornal Hendricks is daar jong agterspelers soos Stedman Gans, Kurt-Lee Arend­se en Seabelo Senatla wat my baie opgewonde maak. Hulle het voortreflike vaardighede wat ’n heel nuwe dimensie na die Bokke kan bring,” sê De Villiers.

Nog ’n voormalige Bok-senter, Gcobani Bobo, meen dis Suid-Afrika se ongelooflike talentpoel wat die Reënboognasie so gedug maak.

“Ek weet die Wes-Kaap alleen het meer rugbyspelers as die hele Ierland. Ons het ’n ongelooflike talentpoel om van te kies. Dit gee my baie vertroue dat ons weer die World Cup kan wen,” sê Bobo.

Jacques Nienaber, die Springbok-hoofafrigter, sê al is die World Cup in Frankryk nog drie jaar weg, is dit goed om ’n einddoel te hê om na te streef.

“Om in dieselfde poel as Ierland en Skotland te wees, sal ’n enorme uitdaging wees, maar om die toernooi te wen, moet jy in staat wees om al die spanne te klop. Ons sal in die groepfases behoorlik getoets word.

Opwindend

“Ons het laas jaar selfs tydens die groepfases by die World Cup gesien dat die verskil tussen wen en verloor baie klein is.”

Volgens die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, is dit opwindend om te weet wie die teenstanders in hul groep gaan wees.

“Ons moet nou egter eers al ons aandag vestig op die groot uitdaging wat die Britse en Ierse Leeus volgende jaar gaan bied,” meen hy.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters