12 dae gelede
Bokke in Japan gestrand
STUCK: Duane Vermeulen in aksie vir die Kubota Spears in Japan.  ~ Gallo Images

DUANE Vermeulen, Jesse Kriel en Malcolm Marx is onder die groep Suid-Afrikaanse spelers en afrigters wat Maandag op ’n lughawe in Tokio vasgesit het.

Dít kom nadat die lugdiens Emirates sy vlugte gekanselleer het.

’n Gefrustreerde Ver­meulen het ’n video getwiet van ’n groep mense wat op die lughawe gestrand is.

Kriel, Marx en die voormalige Cheetah-losskakel Fred Zeilinga is in Vermeulen se video te sien.

Die voormalige Springbokafrigter Allister Coetzee en die oud-Bulls- en die Leeus-afrigter Frans Ludeke was ook by die spelers op die lughawe.

Almal van hulle is tans betrokke by rugbyklubs in Japan. Hulle is almal op pad na Suid-Afrika nadat die Topliga-seisoen in Japan Maandag gekanselleer is.

Vermeulen het ook getwiet: “Goeie tye toe ons by die toonbank by die lughawe aankom en uitvind dat ons vlugte gekanselleer is.

“Daar is absoluut geen ondersteuning van Emi­rates nie. Ons is onbepaald in Japan vasgekeer. My gesin wag by die huis vir my.”

Die Japan Rugbyunie het Maandag die oorblywende 42 wedstryde van die 2020-Topliga-seisoen gekanselleer.

Dis een van die talle maatreëls wat ingestel is in ’n poging om die verspreiding van Sars-CoV-2 te stuit.

Dié virus het tot ’n wêreldwye pandemie gelei.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters