2 maande gelede
Bokke: Dis een worry minder
uit: Brodie Retallick gaan nie die Bokke pak nie. Foto’s: getty images  ~ 

DIE Springbokke kan ’n klein bietjie rustiger slaap met die wete dat die wêreld se beste slot nie Saterdag teen hulle gaan speel nie.

Suid-Afrika speel dan in Wellington, Nieu-Seeland, in ’n Rugby Championship-stryd teen die All Blacks.

Brodie Retallick sal egter nie die Bokke pak nie.

Hy het ’n skouerbesering in die naweek se game teen Argentinië opgedoen.

Volgens Steve Hansen, All Black-afrigter, sal Retallick enigiets van drie tot ses weke nie kan speel nie.

Hoe lank dit ook al sou wees, Retallick se deelname aan die reeks is basies verby.

Dis nogal ’n jammerte vir 2014 se Wêreldspeler van die Jaar. Supporters van albei spanne sien gewoonlik kwaai uit na sy tweestryde met die Bokke se kragtige slot Eben Etzebeth.

Maar hoewel die Bokke ’n bietjie kan glimlag oor een minder ster in die wêreldkampioene se span, het Hansen bevestig verskeie ander is oorgehaal om teen die Bokke losgelaat te word.

Hulle is die veelsydige senter Ryan Crotty, oopkantflank Sam Cane en ster-senter Sonny Bill Williams.

Hansen sê hy het Crotty en Cane (wat albei harsingskudding in toetse teen die Wallabies opgedoen het) spesifiek langer laat rus. Sonny Bill is ook genoeg kans gegee om van ’n seer skouer te herstel.

Die kanse is dus goed dat Sonny Bill en Crotty die All Black-senterpaar vir die toets teen die Bokke sal vorm.

Dan keer die ster-losskakel Beauden Barrett ook terug nadat hy waterboy gespeel het in Saterdag se toets. So ook verlede jaar se beste vleuel, Rieko Ioane, en die uitgeruste skrumskakel Aaron Smith.

Intussen is die All Blacks se kragsenter Ngani Laumape se seisoen dalk verby.

Hy het ook Saterdag in Nelson seergekry toe hy ’n harde stamp teen die linkerknie gekry het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters