7 dae gelede
Bokke bou vir die World Cup
Deon Davids  ~ Gallo Images

DIT is onregverdig om Damian Willemse se vermoë as ’n rugbyspeler op een mislukte skop te beoordeel.

So het Deon Davids, die Springbokke se voorspeler-afrigter, gister in die bres getree vir die jong Springbok-speler.

Willemse het Sondag ’n maklike doelskop in die doodsnikke van Suid-Afrika se naelskraapse nederlaag van 26-28 teen Australië verbrou.

Die 23-jarige boorling van die Strand het as plaasvervanger opgekom nadat Handré Pollard, die Bok-losskakel, ’n nagmerrie-game beleef het. Pollard het met drie maklike pogings misluk en sy spel met bal in hand was ook nie op standaard nie.

Aan die einde van die dag het die 10 verbroude punte die Bokke duur te staan gekom.

Davids het almal herinner aan die eienskappe wat die spelers besit en die langtermyn-siening wat die Bokke het om vir die volgende Rugby World Cup te bou.

“Damian is ’n talentvolle en veelsydige speler. Ons moet verder kyk as net dié game. Hy het ’n sekere drie verhoed met sy puik verdediging,” het Davids gister in ’n aanlyn mediakonferensie verduidelik.

“Hoewel ons die Rugby Champion­ship wil wen en goed op ons jaareindtoer wil vaar, is ons langtermyn-visie om die volgende World Cup te wen. Om dit te kan doen, moet jy ervaring opbou.

“Die ervaring wat spelers soos Herschel (Jantjies) en (Aphelele) Fassi in die toernooi kry, sal belangrike lesse wees wat hulle by die RWC nodig sal hê.

“Damian het wel die skop gemis, maar hy het ander goeie eienskappe. Ons moet holisties kyk na wat hy vorentoe bring vir Suid-Afrikaanse rugby.

“Handré Pollard is ’n profes­sionele rugbyspeler en ’n individu van gehalte op en van die veld. Hy is die eerste man wat sy hand opgesteek het en gesê het dat sy skopspel vrot was. Ons weet wat hy kan doen en ons weet dat hy trots is op die manier waarop hy dinge doen.”

Benewens hul stelskoppe, beoog die Bokke ook om hul dissipline, verdediging en taktiese skopwerk op te skerp voor Saterdag se toets teen die Wallabies in die Suncorp-stadion.

Aspek

Die Aussies het ook die Bokke op kritieke tye in die skrums onder druk geplaas.

Davids het toegegee dat hul skrumwerk nie so akkuraat was soos dit moet wees nie en dat hulle sake sal moet regstel.

“Die vaste fasette is ’n belangrike aspek van ons spel. Dit is moeilik vir skeidsregters om die reëls by skrums toe te pas.

“Dit is vir ons belangrik om seker te maak dat daar ooreenstemming is tussen die prentjie wat ons as afrigters sien en wat die skeidsregters sien.”

.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters