2 maande gelede
Bok-voorsprong groei oor All Blacks in stof byt
BO! Die Bokke het laas in die World Cup gespeel.  ~ Gallo Images

DIE Springbokke het hul voorsprong boaan die Wêreldrugby-rang­lys vergroot – ten spyte daarvan dat hulle sedert laas jaar se Wêreld­beker-eindstryd nog nie in ’n toetswedstryd gespeel het nie.

Suid-Afrika se voorsprong het tot 4,03 punte toegeneem ná die All Blacks se verrassende nederlaag van 24-22 Saterdag in Brisbane teen die Wallabies in die Drienasies-reeks.

Die nederlaag wat die All Blacks in die dead rubber-Bledisloe-toets gely het, het hul posisie versleg.

Die Kiwi’s het van 91,84 na 90,17 afgeskuif. Hulle is nou 4,03 punte agter die Springbokke.

Die naelskraapse oorwinning het Australië se telling van 82,19 tot 83,86 verhoog, maar hulle bly in die sesde posisie, agter Ierland.

Konsekwent

Die Aussies het sedert Michael Cheika oorgeneem het, baie meer kompeterend begin lyk.

Hulle was wel allesbehalwe konsekwent in die Bledisloe Cup teen Ian Foster (afrigter) se All Blacks. Hulle het die All Blacks in Wellington lelik die skrik op die lyf gejaag deur met 16-16 teen hulle gelykop te speel.

Daarna is hulle in agtereenvolgende toetse in Auckland (7-27) en Sydney (5-43) van die veld af gespeel.

Die Aussies het egter die afgelope naweek in Brisbane die bordjies verhang deur in die Suncorp-stadion met 24-22 te seëvier.

Die hele situasie gaan in elk geval verander wanneer die All Blacks in Parramatta met Argentinië kragte meet. Die Argentyne het nog nie vanjaar toetsrugby gespeel nie. Boonop het hulle in hul kamp met Covid-19 gesukkel.

Dit sal as ’n reuse-skok kom as hulle Sam Cane (All Black-kaptein) se span klop.

  • Intussen is die volgende geskeduleerde toets van die Bokke, onder leiding van hul nuwe afrigter, Jacques Nienaber, die eerste toets teen die Britse en Ierse Leeus in Soweto in Julie.

Daar kan egter verwag word dat die Bokke voor dan in een of twee toetse sal moet speel as voorbereiding vir die Leeus se drietoetsreeks.

Wêreldrugby-ranglys

(top-10):

1. Suid-Afrika (94,20 punte)

2. Nieu-Seeland (90,17)

3. Engeland (88,42)

4. Frankryk (84,59)

5. Ierland (84,10)

6. Australië (83,86)

7. Skotland (82,08)

8. Wallis (80,22)

9. Japan (79,29)

10. Argentinië (78,31)

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters