Verlede maand
Bok-reputasie is nou op spel
VOORBOK: Siya Kolisi voer laas week ’n stormloop teen die Leeus uit.  ~ Gallo Images

DIE Springbok-rugbyspan se reputasie as wêreld­kampioen hang aan ’n draadjie.

Die verowering van die Wêreldbeker in 2019 en die romanse daarvan sal vergete raak indien Siya Kolisi (kaptein) se Bokke môre in die Cape Town Stadium die tweede toets – en daarmee die reeks – teen die Britse en Ierse Leeus verloor.

Die vonke het vandeesweek behoorlik in die Bok-kamp gespat, met veral Suid-Afrika se direkteur van rugby en die Bokke se waterboy, Rassie Erasmus, wat die kollig gesteel het.

Eers was Eras­mus, wat toevallig sy toetsdebuut in 1997 teen die Leeus gemaak het, in ’n Twitter-herrie.

Hy is daarvan beskuldig dat hy onder ’n vals naam twiet en veral skeidsregtersfoute en oortredings van die Leeus uitwys.

Gister was hy die besprekingspunt van ’n video van langer as ’n uur wat hoofsaaklik oor die hantering van die eerste toets deur die skeidsregter, Nic Berry en die TMO, Marius Jonker, gegaan het.

Verras

Erasmus het ook gekap na Warren Gatland, die Leeus-afrigter, oor hoe hy Jonker se aanstelling verlede week in die media gekritiseer het.

Hy en Jacques Nienaber, die Bokke se hoofafrigter, het ook verras deur Trevor Nya­kane én Vincent Koch, albei vaskopstutte, op die bank te kies.

Nya­kane het stewig op vaskop in die eerste toets vertoon en speel die laaste paar seisoene eksklusief aan die regterkant van die skrum. Hy gaan egter môre die loskopstut-reserwe wees. Of dit waansin of ’n berekende skuif is, gaan net die tyd leer.

’n Mens kry eintlik die skeidsregter, Ben O’Keeffe, jammer, aangesien sy rol môre meer as gewoonlik onder die vergrootglas geplaas gaan word.

Erasmus het juis vroeër dié week baie subtiel daarop gesinspeel dat Gatland (ook ’n Nieu-Seelander) se gemeenskaplike verbintenis met O’Keeffe ’n kwessie is, “maar ons sal dit nooit doen nie.”

Hoe dit ook al sy, môre se toets gaan ’n hoë-oktaan-toets wees, aangesien die reeks óf ’n wenner kan op­lewer óf in ’n beslissende derde naweek sal ingaan.

Dien

Is Erasmus se klaagliedere bloot ’n geval van suur druiwe of is dit deel van die sielkundige oorlog om die beamptes twee keer te laat dink om 50/50-beslissings eerder in die tuisspan se guns te maak.

O’Keeffe is die skeidsregter, met Mathieu Raynal (Frankryk) en Berry (Australië), wat as sy assistent-skeidsregters dien.

Marius Jonker (van Suid-Afrika) is weer die televisie-wedstrydbeampte.

SPRINGBOKKE

Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Ma­pimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Jasper Wiese, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (kaptein), Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff

BANK: Malcolm Marx, Trevor Nyakane, Vincent Koch, Lood de Jager, Marco van Staden, Kwagga Smith, Herschel Jantjies, Damian Willemse

BRITSE EN IERSE LEEUS

Stuart Hogg, Anthony Watson, Chris Harris, Robbie Henshaw, Duhan van der Merwe, Dan Biggar, Conor Murray, Jack Conan, Tom Curry, Courtney Lawes, Alun Wyn Jones (kaptein), Maro Itoje, Tadhg Furlong, Luke Cowan-Dickie, Mako Vunipola

BANK: Ken Owens, Rory Sutherland, Kyle Sinckler, Tadhg Beirne, Taulupe Faletau, Ali Price, Owen Farrell, Elliot Daly

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters