Verlede maand
Bok-blits uit vir Wallabies
Aphiwe dyantyiFoto’s: gallo images  ~ 

’N BESERING aan Aphiwe Dyantyi is ’n geleentheid vir ander spelers.

Dit is vir Suid-Afrika se toets Saterdag teen Australië op Ellispark.

Noudat Dyantyi ’n dyspier beseer het, kan spelers soos Makazole Mapimpi, Cheslin Kolbe of Dillyn Leyds in aanmerking kom.

Die 24-jarige Springbok-vleuel is Vrydag in ’n oefening beseer. Hy is gister terug na die Lions, vir behandeling daarvoor.

Dié spoedvraat is laas jaar as World Rugby se Break­through Player of the Year aangewys.

Die bestuur van die Bokke het bevestig dat hy nie ’n plaasvervanger vir Dyantyi sal ontbied nie.

Die bestuur glo daar is genoeg spelers in die Bok-oefenkamp in Johannesburg wat dié posisie kan dek.

Die Springbok-breier, Rassie Erasmus, maak die span vir die toets teen die Wallabies môre bekend.

S’bu Nkosi behoort die nr. 14-trui te dra. Sy Shark-spanmaat Mapimpi het vanjaar voortreflike rugby gespeel.

Mapimpi is dus ’n sterk kandidaat vir Dyantyi se nr. 11-trui.

Kolbe was vanjaar een van die spelers van die seisoen in Europa.

Die 25-jarige game­breaker was veral uitstekend vir Toulouse in die Franse Top14-kompetisie.

Dié blitsbuks het laas jaar in sy ses toetse vir die Bokke gewys waartoe hy in staat is.

Erasmus sal dus nie skroom om hom teen die Wallabies los te laat nie.

Benewens Mapimpi het Rassie ook die opsie om Leyds op vleuel te kies.

Leyds was een van die Stormers se groot uitblinkers in die Superrugby-reeks vanjaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters