Verlede maand
Bobaas in Baai
DOER, MY BRA! Faf du Plessis beraam planne met die draaibouler Keshav Maharaj.  ~ Gallo Images

MET die reeks op die spel sal Faf du Plessis (kaptein) wil seker maak sy Proteas slaan vroeg en hard wanneer Donderdag se derde toets teen Engeland op St. George’s Park in Port Elizabeth begin.

Die reeks is tans gelyk, nadat SA die eerste toets op Centurion gewen het en ’n blitzkrieg van paaltjies deur Ben Stokes laat op dag vyf die Nuweland-toets vir die Engelse beklink het.

Skandes

Suid-Afrika het sedert sy hertoetrede tot internasionale krieket 18 toetse in die Baai gespeel. Die span het ’n louwarm wenrekord van 50%, met 9 oorwinnings, 5 nederlae en 4 onbesliste uitslae.

Du Plessis se manne het egter laas jaar teen Sri-Lanka skandes gemaak deur in ’n low scoring-wedstryd met ag paaltjies te verloor. Dit het Sri-Lanka in staat gestel om sy eerste reeksoorwinning in Suid-Afrika te behaal.

Du Plessis se manne kon net tellings van 222 en 128 aanteken en is uiteindelik verspotmaklik met 8 paaltjies geklop.

St. George’s is bekend daarvoor dat daar nie juis baie spoed en wip vir die snelboulers is nie. Dit kan beteken dat draaibalboulers en snelboulers wat die bal kan re­verse swing, waarskynlik die voorste paaltjiejagters sal wees.

Du Plessis sal dus swaar steun op Keshav Maharaj, wat tans deur ’n effense dip gaan. Die Durbaniet sal hoop sy kolwers teken groot tellings aan om hom die vrymoedigheid te gee om aanvallend te boul.

Stokes probeer Maharaj al die hele reeks aanval en sal waarskynlik weer probeer om die lefty uit sy aanval te moker.

As SA Stokes in toom kan hou en die kolwers vir Maharaj die grondslag kan lê om die Engelse aan te val, kan hy ’n gevaarlike angel vir Du Plessis word.

Du Plessis beleef self ’n lopiedroogte, maar die goeie nuus is dat hy ’n goeie rekord in die Baai het. Hy het reeds 6 toetse in die Baai gespeel en spog in 10 beurte met ’n gemiddeld van 72,71. Hy het 509 lopies aangeteken, wat 2 honderdtalle en 3 vyftigtalle insluit.

Dit is van kardinale belang dat Du Plessis sy beste peil herwin en sy span op die voorvoet plaas met groot tellings.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters