10 maande gelede
Blues wys hulle is ernstige Aotearoa-aanspraakmakers
WENNERS: Akira Ioane wens sy kaptein, Patrick Tuipulotu, geluk ná hul oorwinning oor die Chiefs.  ~ Gallo Images

DIE Blues het Saterdag gewys dat hulle ernstige aanspraakmakers gaan wees om met die louere in die Superrugby Aotearoa-kompetisie weg te stap.

Die span van Auckland het twee onbeantwoorde drieë gedruk om die Chiefs met 24-12 te troef.

Dit is die besoekers se eerste oorwinning in Hamilton sedert 2011. Die span van Leon MacDonald spog nou met ses agtereenvolgende oorwinnings in 2020.

Die Blues se eerste drie is deur Hoskins Sotutu, die indrukwekkende agsteman aangeteken. Die vleuel Mark Telea het ’n mooi agterlynbeweging afgerond vir sy span se tweede drie.

Die Chiefs met hul vlugvoetige heelagter, Damian McKenzie, en die senter Anton Lienert-Brown aan die spits, het met belowende bewegings vorendag gekom.

Die Blues het egter beïndruk met hul rotsvaste verdediging.

Al wat die Chiefs vir hul moeite kon wys, is vier strafdoele deur McKenzie.

Sy eweknie van die Blues, Beauden Barrett, het gelyk asof hy by tye doelloos geskop het, maar toe die geleentheid kom, het hy met ’n skepdoel vorendag gekom wat die gang van die game verander het.

Geniet

Barrett het agterna gesê: “Die opsie om met die bal te hardloop, was nie daar nie, daarom het ek maar net besluit om te drop. Dit was net een van daai dinge wat gelukkig uitgewerk het.

“Ek het nog baie om aan te werk. Op die oomblik geniet ek dit net weer om rugby te kan speel.”

Dit was Warren Gatland, afrigter van die Chiefs, se tweede agtereenvolgende nederlaag. Dit gaan nie makliker raak met die Chiefs wat volgende week die Cru­saders in Christchurch moet aandurf nie.

Gatland het aan Wales Online gesê: “Ons gaan nie games wen as ons elke keer die bal omkeer nie.

“Ons moet eenvoudig net akkurater wees. Ons het in die eerste helfte probeer speel toe die weersomstandighede nie goed was nie en onsself onder druk geplaas. Dit was teleurstellend. Ons sal moet hard werk vir volgende week.”

Puntemakers:

BLUES – drieë: Hoskins So­tutu, Mark Telea; doelskoppe: Otere Black; strafdoele: Black (2), Beauden Barrett, skepdoel: Barrett.

CHIEFS – strafdoele: Damian McKenzie (4).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters