13 dae gelede
Blues sny topvier-gaping
INNIE KOL: Kai Havertz trek los met ’n poging wat tot een van sy twee doele gelei het.  ~ Reuters

DIE komende naweek se trip na Manchester kan bepalend in die Chelsea-sokkerklub se aspirasies wees. Die Blues wil die Engelse Premierliga onder die voorste vier spanne op die punteleer voltooi.

Chelsea het die afgelope Saterdag sy vierde plek gekonsolideer. met Kai Havertz se twee doele in ’n sege van 2-0 oor Fulham op Stamford Bridge.

Met dié sege het Chelsea boonop die gaping tussen hom en Leicester City (in die derde plek) tot twee punte gesny. Leicester het waardevolle punte afgestaan in ’n gelykop stryd (1-1) teen Southampton.

Nou kry Thomas Tuchel (manager) se Chelsea-troepe egter ’n baie moeilike taak. Hy moet die daglig tussen hulle en die spanne onder hulle op die punteleer behou of selfs rek. En hiervoor sal hy moet poog om Manchester City in die ­Etihad te klop.

Nie dat die Blues enigsins sal terugstaan vir dié uitdaging nie. Hulle het reeds City sleg tweede laat kom in laas maand se ontmoeting in die FA Cup se halfeindstryd.

Dan is albei klubs boonop nog op koers om mekaar moontlik in die eindstryd van die Uefa Champions League te pak.

Dis nou ás die Blues in Woensdag se tweede been van hul halfeindstryd teen Real Madrid die mas opkom. City moet môre in Manchester op ’n 2-1 voorsprong ná sy eerste been teen Paris Saint-Germain voortbou.

Intussen was Tuchel vol lof vir sy Chelsea-spelers se vertoning teen Fulham. Hy het gesê: “Ons was in die kol. Dit is wat ons van onsself verwag. Ons het die trots na vore gebring waartoe ons in staat is – om te gaan wen tussen twee belangrike wedstryde.

“Ek is oorstelp van blydskap oor wat ons gedoen het. Daar was nie ’n verlies aan konsentrasie nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters