3 maande gelede
Blitsbokke beïndruk
Zain Davids
Zain Davids  ~ GALLO IMAGES

DIE Blitsbokke wat Saterdag in die Super Fan-kragmetings op Loftus Versfeld in Pretoria in aksie was, het almal ’n geweldige impak vir hul onderskeie spanne gemaak.

Dit was veral die ver­tonings van die spelers van die Bulls soos Kurt-Lee Arendse (vleuel), Stedman Gans (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), Gio Aplon (heelagter), sowel as die losvoorspeler Tim Agaba wat die oog met hul voortreflike spel gevang het.

Vir die Sharks het spelers soos Werner Koch en Muller du Plessis ook gewys waartoe hulle in staat is.

Die Blitsbok-ster Seabelo Senatla van die Stormers het sy dyspier vroeg in die game teen die Lions beseer.

Die spoedvraat is deur die gekontrakteerde sewes-Springbok Angelo Davids op die vleuel vervang.

By die Lions het die voormalige Blitsbok Jamba Ulengo beïndruk toe hy as ’n plaasvervanger in die tweede helfte opgekom het.

Peil

Sean Everitt, die Sharks se afrigter, sê hulle kan voort­aan ook op die nommer van sewesspelers soos Zain Davids en Muller du Plessis druk.

Everitt het in ’n aanlyn konferensie aan Son gesê: “Ek was nog altyd ’n groot fan van Zain Davids sedert ek hom sien speel het vir Rondebosch Boys teen Hoërskool Durban (DHS).

“Hy (Davids) het toe op eie houtjie hul eerste span geklop. En DHS was destyds ’n baie goeie span.

“Zain het ’n goeie peil by die Blitsbokke gehandhaaf.

“Ons soek na ’n out-and-out fetcher en ek glo Zain kan daardie job doen.

“Wat ons gedoen het, is om hom na die Sharks te bring. Hy het sy mediese toetse geslaag en het laas week sy eerste oefensessie saam met die span gehad.”

Al is die Sharks geseën met ’n gros talentvolle losvoorspelers soos Sikhumbuzo Notshe, Celimpilo Gumede Evan Roos, James Venter en Henco Venter, hoop Everitt dat Davids by die Sharks in die rol van ’n oopkantflank kan groei.

“Ons weet nie wanneer die nasionale sewesreeks weer aan die gang gaan kom nie.

Leenspeler

Hopelik kan ons so lank moontlik in Durban aan hom vasklou sodat hy gewoond kan raak aan die kultuur.

“Hy is tans ’n leenspeler omdat die sewesspan op die oomblik nie in Stellenbosch oefen nie.

“Hy is dus hier om saam met ons te oefen. Dieselfde geld Muller du Plessis, wat hom ook by ons aangesluit het,” verduidelik Everitt.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters