14 dae gelede
Blitse se kaptein tree uit
CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - DECEMBER 05: Philip Snym
Philip Snyman  ~ Gallo Images

PHILIP Snyman, een van die mees ervare Blitsbokke, het Dinsdag sy uittrede aangekondig.

’n Rugbesering het ’n vroeë einde aan dié 32-jarige Vrystater se loopbaan gemaak. Onder Snyman se leiding het die Blitse twee keer die Wêreldsewesreeks se kroon gebuit.

Hy het Neil Powell (afrigter) se span in 62 toernooie en 276 wedstryde verteenwoordig sedert hy sy debuut in 2008 gemaak het. Snyman het by die L’ Avenir-landgoed buite Stellenbosch dié aankondiging gedoen.

Hy sê: “Daar is drie afrigters wat my loopbaan geslyp het. Pine Pienaar, wat in my geglo het toe daar nie veel was om in te glo nie. Paul Treu, wat in my geglo het as ’n sewesspeler, en Neil Powell, wat in my as mens geglo het.”

Hy het ook sy familie, SA Rugby en die Springbok-sewes se bestuur bedank.

Beteken

Die Blitsbok Justin Geduld is vol lof vir Snyman.

“Philip was altyd die man wat die vuilwerk vir ons op die veld gedoen het. Mense buite ons stelsel sal nooit weet wat hy vir die trui beteken het nie.

“Ons het oor die jare baie goeie vriende geword, soveel so dat ek na hom verwys as my boeta en hy noem my Kleinboet.

“Ons gaan hom gewis mis, maar ons wens hom alle sterkte toe op sy pad vorentoe.”

Mark Alexander, president van SA Rugby, het Snyman in 'n verklaring bedank vir sy bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby.

"Philip se vermoë om die beste uit die Blitsbokke te bring was maar net een van sy wonderlike sterkpunte as kaptein," sê Alexander.

"Onder sy leierskap het die Blitsbokke altyd tot die eindfluitjie gespeel en die nederigheid in sy kapteinskap was altyd 'n kenmerk van hom as leier.

"Sy rekord spreek vanself en hy kan uittree met die wete dat die Blitsbokke op 'n beter plek is danksy sy betrokkenheid. Dankie Philip."


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters