13 dae gelede
Blits lus vir 15-man-game
Selvyn Davids  ~ Gallo Images

SELVYN Davids sal glad nie nee sê as die kans opduik om later vanjaar ook ’n bietjie vyftienmanrugby te speel nie.

Met die Springbok-sewesrugbyspan wat dalk eers in April volgende jaar na internasionale kompetisie gaan terugkeer, is daar vir Davids en verskeie ander voltyds gekontrakteerde Blitsbokke maar min speelkans.

Sommige van sy spanmaats, soos Stedman Gans, het hulle by Superrugbyspanne aangesluit vir die begin van die Superrugby Zans Afrika- en Curriebeker-kompetisie.

Al het Neil Powell, Blitsbok-afrigter, reeds vroeër dié maand teenoor Son die hoop uitgespreek vir die skep van ’n plaaslike sewestoernooi, sal alles afhang van SA Rugby, die beheerliggaam, se besluit oor hoe en wanneer so ’n kompetisie moontlik kan wees.

Davids sê: “Ek sal baie graag weer in ’n vyftiental wil uitdraf, maar vir nou is ek tevrede om by die sewes te bly.

“Op die oomblik was daar nog geen kontak van spanne nie, maar ek sal enige tyd die kans vat om game time te kry, sou die geleentheid daar wees.”

Davids het voor sy opgang as Blitsbok-ster naam gemaak as heelagter vir die Griffons in die Currie Cup se Eerste Liga. Hulle het dié kompetisie in 2016 gewen.

Hy was ook ’n lid van die Oostelike Provinsie se o. 21-span wat in 2014 onder die afrigting van Ryan Felix promosie tot die A-afdeling van SA Rugby se provinsiale o. 21-kompetisie gewen het.

Die Humansdorper het sewesrugby se Covid-19-verkorte Wêreldreeksseisoen van 2019-’20 as Suid-Afrika se voorste puntemaker met altesaam 109 punte afgesluit.

Hy is ook negende op die Wêreldreeks se lys van voorste puntemakers.

Hieroor sê hy: “Dit is ’n amazing gevoel om só ’n statistiek agter my naam te hê. Ek sou dit egter nooit kon bereik het sonder die hulp van my spanmaats nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters