Verlede maand
Bittersoet vir SA ster
Kelso PeskinFoto: BACKPAGEPIX  ~ 

NET toe sy dink daar is ’n blaaskans om ’n bietjie tyd saam met haar familie en geliefdes in Suid-Afrika deur te bring, toe moet Ban­yana Banyana se sterspeler Kelso Peskin weer haar tasse pak vir nuwe uitdagings.

Dis omdat dié 24-jarige striker ’n nuwe kontrak aangebied is in die vroueafdeling van die Franse Ligue 2.

Sy het ’n jaar kontrak met Stade Brestois 29 geteken.

Ongelukkig is Peskin se vorige kontrak van ses maande met nog ’n Franse-span, Toulouse FC Féminines, gekelder weens die corona-virus-pandemie.

Ná ’n indrukwekkende begin kon die boorling van Bellville nie juis haar merk maak voordat sokker gestaak is nie.

Haar kontrak het tot ’n einde gekom. Sy was vasgekeer in die buiteland en het eers twee weke gelede na Suid-Afrika teruggekeer om by haar familie te kom kuier.

Sy het intussen haar oupa Edward Michael en tante Rene Michael aan die dood afgestaan.

Volgens Peskin is dit nou ’n “bittersoet” gevoel omdat haar oupa nie meer daar is nie.

“Ek sal weer die begraafplaas moet besoek om afskeid te neem van my oupa Eddie,” het Peskin gister aan Son gesê.

“Hoewel my oupa nie kon praat nie, sou ek die erkenning in sy oë kon sien. Net om vir hom te sê dat ek nou weer oorsee aan my sokkerdroom gaan skaaf, sou vir my genoeg gewees het.

“Maar dis hoe die lewe gaan en waarom jy niks as vanselfsprekend moet vat nie,” het sy bygevoeg.

Dis ook vanweë Peskin se volwasse en professionele uitkyk op die lewe en haar loopbaan dat die SA ster beloon is met nog ’n kontrak oorsee.

Sy het ook nie verwag dat alles so vinnig sal gebeur nie.

“Eerstens moet ek my agent, Borris, bedank vir sy harde werk agter die skerms.

“Hy sien regtig om na my belange en ek waardeer dit baie. Hy doen alles in sy vermoë om my loopbaan na nuwe hoogtes te vat.”

Peskin meen egter sy sal nie betyds wees vir haar nuwe klub se voorseisoen, wat einde Julie begin nie.

Daar heers ook nog ’n bietjie onsekerheid oor die presiese datum wanneer sy die land gaan verlaat.

Sy sal wel daar wees voordat die klub sy seisoen amptelik op 6 September afskop.

Peskin sê sy is in haar skik dat sy die kans kry om weer te begin speel te midde van Covid-19.

“Ek voel jammer vir baie atlete wat weens die corona-situasie nie kan meeding nie. Ek is baie happy oor my nuwe uitdagings.

“Ek is ook happy dat ek binnekort weer op die oefenveld gaan wees en sal kan begin speel.

“Wees verseker, dis ’n geleentheid was ek beslis met albei hande aangryp. Dis omdat ek besef hoe gelukkig en geseënd ek is om my loopbaan weer oorsee voort te sit,” sê Peskin dankbaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters