5 dae gelede
Bibo trap diep spore in Dubai met Blitsbokke
Veteraan: Branco du Preez op die oefenveld met die Blitse in Dubai.  ~ Gallo Images

OFSKOON hy in die fleur van sy sewesrugbyloopbaan is, het Branco “Bibo” du Preez nog ’n goeie kans om sy stewels weg te pak as Suid-Afrika se voorste puntemaker van alle tye.

Dié boorling van George speel eerskomende naweek in sy 76ste Wêreldreeks-toernooi vir die Blitsbokke – die meeste deur enige Suid-Afrikaanse speler.

Hy het reeds 1 355 punte in dié jaarlikse reeks aangeteken. Dit sluit in 97 drieë, 432 doelskoppe, een strafdoel en een skepdoel.

Op die Wêreldreeks se algehele puntelys beklee Du Preez tans die negende plek – net twee plekke agter die Blitsbok-legende en voormalige sewesspeler van die jaar, Cecil Afrika.

Afrika, sewende op dié lys, spog met 1 462 punte, en sal vir lank deur Blitsbok-ondersteuners onthou word as die talisman waar om dié span se groei in dié formaat gedraai het.

Maar Du Preez kan self al as ’n legende beskou word. Hy was immers lid van twee veldtogte waarin die Blitsbokke as Wêreldreeks-titelwenners gekroon is. Hy spog ook met ’n goue medalje wat hy by die Statebondspele ingepalm het.

Kaapstad

Dit gaan die eerste keer wees dat die Blitsbokke twee toernooie agtereenvolgens in Dubai gaan speel. Dít aangesien Kaapstad weer nie vanjaar – weens Covid-19-beperkings – ’n toernooi kan aanbied nie.

Dubai is egter een van die Blitsbokke en Du Preez se gunstelingplekke om sewes te gaan speel.

Hy het hieroor gesê: “Ek dink dit is ’n baie opwindende geleentheid vir spelers om weer net die game te kan speel. Dubai is vanjaar back -to -back toernooie, wat baie exciting is.

“Baie spelers sê altyd dit is hul die gunsteling plek, so ons is baie excited en reg vir nog ’n geleentheid om uit te gaan en te speel.”

Volgens Du Preez gaan dit belangrik wees om die goeie spelpeil van die twee toernooie in September in Kanada (Vancouver en Edmonton) nou in Dubai voort te sit.

Dié toernooie het gedien as die Wêreldreeks se 2021-seisoen, met die Blitsbokke wat albei gewen het om as kampioen gekroon te word.

“Nou is ons weer terug by square one. Ons moet oor begin. Jy kan nie van ’n high afkom en dan net dink dit gaan weer so wees nie.

“Daar moet deur almal weer harde werk ingesit word,” het die SA troefkaart opgewonde gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters