11 dae gelede
Besering fnuik Afrika voor WB-7’s
wenners! Die Blitsbokspan en -bestuur pronk met hul Parys-titel en die baie gesogte Wêreldreeks-titel. Foto: peter abrahams  ~ 

DAAR was gister ’n bietjie hartseer nuus vir die triomfantelike Springboksewes-rugbyspan toe hy op Kaapstad-lughawe deur ondersteuners terugverwelkom is.

Cecil Afrika, een van die Blitsbokke se mees ervare spelers, sal nie van 20 tot 22 Julie aan sewesrugby se Wêreldbeker-toernooi in San Francisco deelneem nie.

Die 30-jarige spelskepper van Port Elizabeth het luidens betroubare bronne sy dyspier geskeur. Afrika sal nou eers teen volgende seisoen se Wêreldreeks weer vir die Blitsbokke beskikbaar wees.

Vergadering

Neil Powell, Blitsbok-afrigter, wou nie die erns van Afrika se besering bevestig nie, maar het gesê dinge lyk beslis nie goed vir die Blitsbok-veteraan nie.

“Ons gaan môre (vandag) ’n vergadering met die mediese span hê, maar ek dink Cecil sal dit nie maak nie.

“Ons behoort ’n hele paar terug te kry van beserings.”

Powell, wat – saam met sy span se sukses as Wêreldreekswenners – as die seisoen se beste afrigter aangewys is, sê daar sal nou in alle erns begin beplan word vir die Wêreldbeker-toernooi.

“Ons behoort manne soos Rosko (Specman) en Selvyn (Davids) terug van beserings te kry en daar is ’n 50%-kans dat Chris (Dry) beskikbaar gaan wees. Branco (du Preez) behoort ook weer teen daai tyd reg te wees.

“Ons gaan nou so ’n klein blaaskansie neem en dan iewers in volgende week begin oefen.

“Ons gaan ook daarna kyk om so ’n paar opwarmingswedstryde te speel.

“Dis in hierdie wedstryde waar ’n ou soos Chris getoets sal word om te sien hoe ver weg hy van ’n terugkeer is.”

Met Afrika uit en Kyle Brown nie beskikbaar nie, sal die terugkeer van Dry van kardinale belang wees.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters