3 maande gelede
Benni wil hom nou wreek
benni mccarthyFoto: Gallo Images  ~ 

NAGMERRIES en lyding!

Dís ál wat Baroka FC vir Cape Town City en sy breier, Benni McCarthy, besorg.

Dis omdat City in sy vorige sewe wedstryde in alle kompetisies teen Baroka net twee keer gewen het.

Dit was een keer (3-0) tuis in die Premiersokkerliga (PSL) en in ’n wegwedstryd (3-4) in die Telkombeker-kompetisie.

Een wedstryd het gelykop geëindig, terwyl die elftal van Polokwane die Citizens reeds vier keer in alle kompetisies gefnuik het.

So, McCarthy weet maar al te goed dat Baroka hul bogey-span is.

Hy sê egter: “Dié keer is ek egter baie optimisties.

“Dis omdat ons nou ’n doelwagter (Peter Leeuwenburgh) het wat nie doele van 45 tot 50 yards sal afstaan nie. Ons is stewiger danksy ons nuwe goalie.

“Ek moet eerlik wees, verlede seisoen het Shu-Aib Walters doele van 45 yards afgestaan.

“Ek dink Peter en Sage (Stephens) is betroubaarder en sal die lang skote dié seisoen kan hanteer.

Oplewing

“Ons verdedigingslinie is ook hegter en betroubaarder en ons het ook nóg ’n doelskieter aangeskaf: (Matthew) Rusike.

“Daar is ’n oplewing in sy spel en hy het gewys wat hy kan doen. Dis ook waarin ons kort geskiet het teen Baroka. Ek onthou hoe ons albei (PSL-)wedstryde verloor het. Ek was só boos, want ons het ’n hele drie punte weggesmyt. Selfs in die Beker het hulle ons uitgeskakel, en dít was ’n wedstryd waarin ons hulle oorheers het.

“Ons kon net nie ’n doel aanteken nie – en dít was die probleem.

“Boonop het ons maklike doele afgestaan.

“Ons het nou ook ’n gedugte doelskieter én Craigy Martin wat op dreef kom.

“So, ek is baie optimisties. Ek dink ons sal dié seisoen beter vaar as verlede seisoen.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters