14 dae gelede
Benni na Bafana
Benni McCarthy  ~ Gallo Images

BENNI McCarthy het toe uiteindelik die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se aanbod aanvaar om die vakante Bafana Bafana-pos vol te staan.

Die rekord-striker van Suid-Afrika sal binnekort amptelik aangewys word nadat Safa met McCarthy se vereistes oor die pos ooreengestem het.

Son is ingelig dat van McCarthy se demands is om eers die seisoen met Ama­Zulu – wat in die wedloop is vir die ligatitel – af te handel.

Vergader

Die 43-jarige McCarthy het Safa ook voorgelees dat hy net die job sal vat indien sy bestuurspan ook sy twee assistente, Vasili Manousakis en Siyabonga Nomvethe, sowel as die goalie coach Moeneeb Josephs insluit.

Safa, wat intussen sy vryery na Carlos Queiroz laat vaar het, het Woensdag in die Cullinan Hotel in Kaapstad met McCarthy vergader. Dit kom nadat AmaZulu McCarthy se voormalige span Cape­ Town City met 5-1 ore aangesit het.

Die vergadering is gevolg deur nog onderhandelinge wat Vrydag in Johannesburg plaasgevind het.

McCarthy het daar sy voorwaardes voorgelê en Safa het dit aanvaar.

“Die job is Benni s’n. Maar hy het Safa ingelig dit kan net amptelik wees indien hy eers die seisoen met AmaZulu voltooi,” verduidelik ’n bron na aan Safa.

“Hy voel dis net die regte en eerbare ding om te doen.

“Hy voel dat hy dit aan die aan die klub se voorsitter, Sandile Zungu, en die fans verskuldig is.”

Intussen gooi Zungu behoorlik wal omdat Safa besig is om AmaZulu se titel-aspirasies omver te werp met dié dat hy McCarthy se dienste nou soek.

Tog het die AmaZulu-leier uitgewys dat hoewel dit moeilik is, is hy bereid om te onderhandel solank dit op ’n ordentlike manier afgehandel word.

Openbaring

AmaZulu is dié seisoen ’n openbaring onder McCarthy, wat reeds talle klub- en PSL-rekords gebreek het.

Tebogo Motlanthe, uit­voerende hoof van Safa, sê Vrydag op sy beurt: “Ons het al die uitstaande sake­ afgehandel en ons sal volgende week die nuwe afrigter bekend maak.

“Die twee partye (Safa en die nuwe afrigter) het alle sake opgelos en ál wat nou oorbly, is om hom volgende week amptelik aan te kondig­.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters