3 dae gelede
‘Benni is soos ’n seun’
Hey, dad! Cape Town City se eienaar, John Comitis (links), sê sy voormalige afrigter Benni McCarthy is soos ’n seun vir hom.  ~ Gallo Images

JOHN Comitis, Cape Town City se baas, hou vol daar is niks bad blood tussen hom en sy “seun” Benni McCarthy nie.

Dis toe Comitis gepols is oor waarom McCarthy dan regshulp soek nadat die Citizens hom van sy kontrak vrygestel het – en hy nie bedank het soos Comitis-hulle aanvanklik probeer voorgee het nie.

McCarthy se agent, Rob Moore, het vroeër dié week aan Son bevestig sy kliënt het wel sy regspan genader om die saak te ondersoek.

Comitis het dit probeer downplay deur te sê dit was om die beëindiging van die kontrak te finaliseer.

Hy sê: “Dit is normaal, en dis dieselfde ou met wie ek gedeal het toe ons McCarthy gesign het.”

Son verneem Comitis reken hy hoef McCarthy nie die byna R4 miljoen uit te betaal vir die oorblywende sewe maande van sy kontrak nie.

McCarthy is Sondag van sy kontrak vrygestel ná meer as twee seisoene op City se boeke­.

In daardie periode het City net die MTN8-titel verower.

Comitis hou vol daar is geen kwade gevoelens tussen hulle nie. Hy sê: “Nee, hy is soos ’n seun vir my.”

City het Woensdag sy eerste sege in alle kompetisies dié seisoen behaal.

Die Kaapse span het Polokwane City in die Kaapstad Stadion met 5-3 geklop.

Dit was onder die leiding van die span se hulpafrigter, Vasili Manousakis, wat waargeneem het in Benni se afwesigheid.

Die klub se nuwe afrigter, Jan Olde Riekerink (56), sal die leisels by Manousakis oorneem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters