11 dae gelede
Beker op pad
OP DIE RANDJIE? Jake White­ kan nóg ’n trofee wen.  ~ Gallo Images

DIE Bulls gaan waarskynlik môremiddag as Suid-Afrika se Superrugby Unlocked-kampioen gekroon word.

Jake White (afrigter) en Duane­ Vermeulen (kaptein) rus egter nie op hul louere nie en sal na alle aanduidinge môre op Loftus Versfeld geen genade aan die Pumas toon nie.

White gee Morné Steyn ’n welverdiende ruskans, maar het steeds ’n baie sterk span gekies vir sy span se wedstryd teen die Pumas.

Chris Smit vervang Steyn as losskakel in wat sy eerste start vir die Bulle sal wees. Clinton Swart is die losskakel op die bank.

Voorlangs kom Arno Botha in vir Elrigh Louw, wat ’n blaaskans gegun word.

Corniel Els begin op haker in Joe van Zyl se plek, terwyl die eerstekeuse-haker, Johan­ Grobbelaar, steeds op die krukkelys is.

White se span gaan waarskynlik net een ligapunt uit die stryd nodig hê, aangesien die wedstryd van die enigste spanne wat hulle moontlik kan inhaal, nie meer plaasvind nie.

Albei dié spanne sal moontlik twee punte uit die “wedstryd” kry, wat hulle dan gelyk met die Bulle sal bring.

Die Bulle se punteverskil van +70 sal dan in elk geval genoeg wees sodat hulle met die louere kan wegstap.

Welstand

“Weens die effek wat die pandemie op verrigtinge gehad het en die stryd tussen die Stormers en Sharks wat gekanselleer word, bevind ons ons in ’n gelukkiger posisie as verwag.

“Al is dit nie ’n ideale situasie vir die toernooi en die spanne nie, verstaan ons dat die veiligheid en welstand van alle betrokkenes eerste kom,” het White gesê.

“Ons as span wil verseker dat as ons as kampioene aangewys moet word, ons dit op die regte manier wil doen, met ’n oorwinning oor ’n goeie Pumas-span.”

Die afskop is 14:00 en word regstreeks op die SuperSport Grandstand- en SS Rugby-kanaal uitgesaai.

BULLS: David Kriel, Travis Ismaiel, Stedman Gans, Cornal Hendricks, Kurt-Lee Arendse, Chris Smith, Ivan van Zyl, Duane Vermeulen (k), Arno Botha, Marco van Staden, Ruan Nortjé, Walt Steenkamp, Trevor Nyakane, Corniel Els, Jacques van Rooyen.

BANK: Joe van Zyl, Gerhard Steenekamp, Marcel van der Merwe, Sintu Manjezi, Nizaam Carr, Embrose Papier, Clinton Swart, Marco Jansen van Vuuren.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters