2 maande gelede
Bekende O.P.-skeidsregter oorlede
Colin Makana  ~ Foto Verskaf

DIE Oostelike Provinsie Rugbyskeidsregtersvereniging (EPRRS) het dié naweek een van sy bestes verloor.

Colin “Slamsie” Makana is Saterdag in die ouderdom van 57 oorlede nadat hy vir ’n rukkie siek was.

Sy seun Khayalethu sê die familie is geskok en steeds onseker oor sy sterfte, want hulle wag steeds op die doodsverslag.

“Die familie is vreeslik geskok, maar ek wil net almal bedank vir hul ondersteuning,” sê Khayalethu.

Stig

Makana is ’n legende onder skeidsregters, want hy het as ’n jong rugbyspeler reeds in die laat 1970’s begin blaas.

Hy het ook die Port Elizabeth Skeidsregtersunie (Peru) help stig onder die vaandel van die KwaZakhele Rugbyunie (Kwaru) en Suid Afrikaanse Rugbyunie (Saru).

Sy vriend Lucky Mange vertel Makana wou graag eintlik ’n Springbok word.

“Hy was vinnig op die wing op sy dag, maar ongelukkig te klein en daar was beter ouens as ek en hy in die game, maar dit het Colin nie gestop nie,” vertel Mange.

“Hy het al terwyl hy nog op skool by die Hoërskool Newell in New Brighton, gespeel het, begin as ’n skeidsregter.”

Mange vertel sy vriend was altyd baie goed en in beheer van alle wedstryde en situasies.

Hy onthou een geval in ’n klubwedstryd toe te veel spelers op die bal geval het en niemand kon sien wat met die bal gebeur nie.

Mange vertel: “Colin het met ’n straight face die TMO sign gemaak. Hy het toe sy selfoon uitgehaal en gemaak asof hy met iemand praat.

“Al die spelers het hom geglo en gewag vir die uitslag. Tot vandag toe lag ek nog daaroor.”

Uitdaging

Archie Ndayi, wat Peru saam met Makana gestig en daarin gedien het, het op die EPRRS-webtuiste gesê Makana was ’n toegewyde skeidsregter wat die spel altyd wou ontwikkel.

“Hy het altyd gehou van ’n uitdaging en ek dink dis waarom hy ’n skeidsregter geword het. Met sy toewyding het hy baie vinnig een van die OP se top-refs geword,” sê Ndayi.

Saru het Makana in 2018 vereer vir sy werk in rugby voor en ná eenwording.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters