Verlede maand
Beheerraad kry skuld
Gefokus! Kyle Moses (links) van Matroosfontein beheer die bal onder druk van Black Cats se Shane-Lee Windvogel.  ~ Mark Ward

DIE sokkerbeheerliggaam van Safa Sentraal-Karoo moet volle verantwoordelikheid aanvaar dat Merweville United nie aan die Derde Liga se uitspeelreeks in Belhar kon deelneem nie.

Dit volg nadat Merweville nie toegelaat is om aan die naweek se playoffs op die Ericapark-sportterrein deel te neem nie.

Die spelers moes natuurlik met groot teleurstelling terugkeer na Beaufort-Wes.

Gerald Don, voorsitter van Safa Wes-Kaap, reken hy het volle vertroue en staan by die plaaslike amptenare wat die besluit geneem het.

Don sê dit is ’n jammerte dat die span weggewys moes word.

Hy voeg by dat die vingers direk na Safa Sentraal-Karoo se amptenare wys en dat hulle drooggemaak het.

Die klublede is erg omgekrap omdat hulle nie toegelaat is om die terrein te betree nie.

“Die reëls bly die reëls,” het Don aan Son gesê.

“Die Sentraal-Karoo-streek is deeglik bewus daarvan dat die klub nie sonder die geldige spelerskaarte van geregistreerde spelers by die perseel kon opdaag nie.

“Hulle is dan nie vir die 2020-’21-seisoen geregistreer nie.

“Hulle het wel met geldige kaarte vir die 2021-’22-seisoen opgedaag.

“En dit is hier waar die probleem lê,” het Don verder gesê.

David Maans van Safa Sentraal-Karoo het op sy beurt bevestig dat die Merweville-klub nie in besit was van die geldige speelkaarte nie, maar dat daar versagtende redes daarvoor is.

“Ons sou aanvanklik nie ’n plaaslike Derde Liga die seisoen gehad het nie,” het Maans begin verduidelik.

“Daar is van plan verander en dit is waarom ons toe nie die geldige speelkaarte gehad het nie.

“Wat teleurstellend is, is die feit dat die span nie eens toegelaat is om die terrein binne te gaan nie. Ek sal deur die amptelike kanale my misnoeë aanmeld,” het Maans stoom afgeblaas.

  • Intussen was Patrick Weels (coach) se Matroosfontein-span sy eie vyand in die final teen Black Cats.

Twee vinnige doele binne die spasie van 10 minute deur die besoekers het die wind uit Matroos se seile geruk.

Nodeloos om te sê – die span van die Northerns het nooit hiervan herstel nie en het die final met 1-2 verloor.

“Ons defence het ons in die steek gelaat deur twee pasella-doele af te staan,” berig Joe Pillay.


BLACK CATS is terug in die Wes-Kaapse Tweede Liga.

Dié sokkerkatte van Lawaaikamp in George het Sondag op die Ericapark-sportterrein in Belhar hul plek in die provinsiale kompetisie bespreek deur Matroosfontein met 2-1 te uitoorlê.

Die manne van die Suid-Kaap het laas in 2017 in dié kompetisie gespeel, maar is deur ’n gebrek aan finansiële ondersteuning gekortwiek.

Nou is dinge anders, sê Basil Mavukwana, afrigter van Cats. Sy span is dié keer veel beter voorbereid om aan die uitmergelende kompetisie deel te neem.

Mavukwana sê: “Die kompetisie is ’n tawwe affêre. Ons moet regoor die Wes-Kaap reis en daarvoor moet jy goed voorbereid wees en ook hope geld hê.

“Ons het ordentlike planne beraam wat gerugsteun is deur ’n borg. So, ja, ons is baie opgewonde en trots op die prestasie. Dit was ’n moeilike uitspeeltoernooi en ons moes baie hard werk.

Volgens Mavukwana sal Cats steeds die Lawaaikamp-sportterrein langs die N2 in die woongebied van Thembalethu as hul hoofkwartier gebruik.

Cats moes die stryd teen Matroosfontein wen omdat die Safa Cape Town-verteenwoordiger ’n beter doelgemiddeld gehad het. Indien die spanne die punte gedeel het, sou Matroos deurgedring het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters