6 dae gelede
Baxter praat kaalvuis oor Kermit se karakter
oefen kliphard: Kermit Erasmus gee sy hart en siel vir Cape Town City. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

KERMIT Erasmus speel weer soos iemand wat gereed is vir ’n internasionale terugkeer, maar Bafana Bafana het hom nog nie nodig nie.

Stuart Baxter, afrigter van die Suid-Afrikaanse sokkerspan, was die week vol lof vir dié doelskieter van Cape Town City, wat teruggekeer het na Premierliga-sokker.

Baxter het egter besluit om die Oos-Kaapse boorling nie vir Bafana Bafana se belang­rike kragmeting met Libië te kies nie.

Dis ’n kwalifiserende wedstryd vir die Afrikabeker.

Bafana Bafana kom op 24 Maart in Sfax, Tunisië, teen die Libiërs te staan.

Baxter het besluit om Lars Veldwijk, Keagan Dolly, Lebo Mothiba, Lebohang Maboe en Percy Tau op te roep as sy opsies vir doelskieter vir dié wedstryd.

Die Bafana Bafana-breier het ook reeds laat blyk hy gaan Veldwijk as plaas­vervanger teen Libië inspan.

“Ja, ons wou Kermit betrek,” het Baxter luidens Sport24 gesê.

Teenstand

“Ek het ’n lang gesprek met sy afrigter, Benni McCarthy, gehad. Ek is al ’n geruime tyd in kontak met Kermit.

“Ek het selfs Kaap toe gegaan om te sien hoe City teen die Sweedse span Häcken speel, want ek wou sien hoe die Kaapse spelers met internasionale teenstand vaar.”

Teen Häcken was Erasmus een van die plaasvervangers.

Baxter sê die 20 minute speelkans wat die Baaienaar gekry het, het hom oortuig hy maak weer opgang.

Tog sou dit volgens die nasionale breier onregverdig wees om hom op te roep en nie speelkans te gee nie.

“Ek het vir Benni gesê hy doen fantasties met Kermit. Een van die redes waarom Kermit goed vaar, is omdat hy sy beste gee wanneer hy voel hy word waardeer.

“Kermit is iemand wat dit nie goed hanteer as hy nie weet wat sy rol is nie.

“Hy sien homself as ’n belangrike speler – en hy is een.

“Hy hanteer dit nie goed as hy net lid van die groep is nie,” het Baxter gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters