4 dae gelede
Baloyi nou ’n afrigter
CHAMP: Cassius Baloyi is voortaan in ’n nuwe rol te sien. Foto: GOLDEN GLOVES  ~ 

DIE voormalige wêreldbokskampioen Cassius “The Hitman” Baloyi is nou ’n afrigter.

En sy eerste twee boksers, Jason Matthews en Xoliswa Xabanisa, is gereed om deur die toue te klim.

Die aankondiging is op die webwerf van Golden Gloves-promosies gedoen.

Rodney Berman sê hy is verheug om bekend te maak dat Baloyi deesdae sy vaardighede en ervaring aan ander boksers oordra.

“Ons sien uit daarna om met een van Golden Gloves se beste boksers nóg – en waarskynlik een van die gaafstes – saam te werk.

“Cassius is ’n ongelooflike nice mens en ’n vriend duisend.

“Ons by Golden Gloves is vas oortuig dat hy ’n uitstekende afrigter gaan word.

“Sy twee boksers maak ook binnekort hulle debuut in een van ons toernooie.

“Ons sien saam met Cassius uit na die oomblik wanneer hy sy debuut as afrigter maak,” sê Berman.

Baloyi het in ’n loopbaan wat van 1994 tot 2012 gestrek het, 37 van sy 46 gevegte gewen en 19 uitklophoue geplant.

Opgehang

Hy was onder meer verskeie kere die IBF en IBO se superveergewigkampioen.

Baloyi het sy laaste vier gevegte almal met punte verloor voordat hy sy handskoene op 14 Oktober 2012 finaal opgehang het.

Dié teenstanders was Mzonke Fana, Argenis Mendez, Paulus Moses en Malcolm Klassen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters