4 maande gelede
Bale nie vort oor Zidane se woorde
Gareth Bale  ~ Getty Images

ZINEDINE Zidane, manager van Real Madrid, sê hy het niks aan Gareth Bale gesê voordat dié vertrek het om hom by Tottenham Hotspur aan te sluit nie.

Zidane hou vol dat hy geen persoonlike probleem met die Walliese speler gehad het nie, hy het hom eerder geprys vir wat hy vir die Spaanse klub gedoen het.

Loopbaan

Bale is Vrydag vort na Londen om hom weer by Spurs aan te sluit. Dis op ’n leenkontrak sewe jaar nadat hy hom van die einste Londense klub by Real aangesluit het.

Sy loopbaan by Madrid was vol doele en trofees. Hy het die afgelope twee seisoene egter min gespeel, maar dit was nie weens beserings nie.

“Ek het nie met hom gepraat nie,” het Zidane gister gesê op ’n nuuskonferensie voor Real se eerste wedstryd in La Liga, waarin hy die kampioen is.

“Ek weet wat hy vir hierdie klub gedoen het. Hy het altyd sy beste gegee en ek weet wat hy met die klub bereik het, niemand kan daarteen stry nie.”

Bale was in 2016 in Zidane se eerste seisoen by Real ’n sleutelspeler in die verowering van die Champions League-titel.

Hy was egter die grootste deel van die tweede veldtog afwesig weens beserings.

Hy het nooit daarin geslaag om homself weer as ’n eerstekeuse-speler vir die Fransman te vestig nie, selfs nadat hy twee doele aangeteken het in die 2018-eindstryd teen Liverpool.

Daar is ’n opvatting dat Zidane vir Bale uit Madrid gedwing het, maar die breier verskil daarmee.

Wens

Hy sê: “Dis nie so nie. Dis ongelukkig ingewikkelder as dit, maar ek het nog nooit ’n probleem met Gareth gehad nie.

“Dinge gebeur altyd. Nou maak hy ’n skuif. Al wat ons kan doen, is om hom die beste toe te wens. Hierdie dinge gebeur in sokker, maar ek het nog altyd gesê hy was ’n goeie speler.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters