9 dae gelede
Bal stadig aan’t rol
Jacques Faul  ~ Gallo Images

DIE Proteas is straks teen Maandag terug op die oefenveld en in die nette ná ’n afwesigheid van meer as drie maande.

Krieket is onder die nie-kontaksportsoorte wat verlede week die groen lig van Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, gekry het.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het twee weke terug met groot fanfare ’n eenmalige wedstryd om die Soldarity Cup aangekondig. Dit sou verlede Saterdag in ’n nuwe driespanformaat (3TC) gespeel word.

Die regering het dié versoek afgekeur, maar Mthethwa het toe darem laat verlede week die jawoord gegee dat onder meer krieket kan voortgaan.

Die 3TC-wedstryd is onbepaald uitgestel, maar dit gaan volgens alle aanduidings waarskynlik eersdaags gespeel word.

Netwerk24 berig KSA sal ’n nuwe datum vir die wedstryd bevestig. Die opbrengs van die wedstryd gaan vir Covid-19-verligting aangewend word. ’n Teiken van R3 miljoen word genoem.

“As ons ’n week vroeër die goedkeuring gekry het, kon ons die Solidarity Cup gehou het,” sê Jacques Faul, waarnemende uitvoerende hoof van KSA. “Dit wys ook ons was nie heeltemal verkeerd met ons beplanning (vir die wedstryd) nie.”

Goedkeuring

Hy sê ongeveer 40 spelers sal Maandag saamtrek om te oefen. “Dit is belangrik dat die hoëprestasiegroep Maandag begin oefen. Hulle sal in verskillende stadions oefen – almal in die stadion naaste aan hul huis. Plaaslike afrigters sal die oefeninge behartig.”

Hoewel daar nie in Covid-19 hotspots geoefen mag word nie, sê Faul KSA het die nodige goedkeuring van die regering.

“Ál die metro’s is hotspots. Ons het die nodige goedkeuring en moet net die bykomende regulasies toepas.”

Die Proteas se reis na die Wes-Indiese Eilande (wat vir einde Julie en Augustus geskeduleer is), is nog nie amptelik gekanselleer of uitgestel nie. Daar is ook sprake dat Indië in Augustus na Suid-Afrika sal kom vir ’n T20-reeks, maar niks is nog hieroor aangekondig nie.

Die Internasionale Krieketraad het ook nog geen amptelike aankondiging oor die T20-Wêreldbeker gemaak nie. Dié toernooi is geskeduleer vir Oktober en November in Australië.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters