10 maande gelede
Bafana Bafana op koers
Molefi Ntseki  ~ Backpagepix

BAFANA Bafana se coach­, Molefi Ntseki, sê hy is optimisties daaroor dat sy huidige groep, wat uit drie generasies bestaan, op koers is om Safa se doelwitte te bereik.

Safa het sy “Vision 2022” in 2014 geïmplimenteer. Dis deel van sy strategie om die land se gloriedae in groot internasionale kompetisies terug te bring.

Safa wou ver­seker dat die land deur ontwikkeling top-talent kweek en kwalifiseer vir ál die groot toernooie in Afrika – tot by die World Cup.

Ongelukkig het die senior manspan gesukkel.

Sedert Suid-Afrika in 2010 die Wêreldbeker-toernooi aangebied het, het die span nog nooit weer vir die skouspel gekwalifiseer nie.

Ntseki is uit die junior nasionale span bevorder om Bafana Bafana te laat herleef. Dié besluit het die wenkbroue laat lig.

Daar is verwag dat Safa ’n meer invloedryke en ervare breier sou aanstel om hierdie taak te verrig.

Kort voor die kwalifi­seringswedstryd vir 2022 se Afcon-toernooi teen São Tomé en Príncipe het die Suid-Afrikaanse breier gesê hy weet wat gedoen moet word om die vreugde terug te bring.

Met twee jaar oor glo Ntseki die huidige geslag Suid-Afrikaanse spelers, onder leiding van Thulani Hlatshwayo, sal wel iets kan bereik.

Kaptein

Ntseki-hulle hervat hul 2020-Afcon-veldtog vandag in die Moses Mabhida-stadion teen die span van die eilande.

“Die visie het begin met die o. 17-span wat in 2014 na die Wêreldbeker-toernooi in Chili gegaan het,” sê Ntseki. “Sedertdien het ons gesien hoe ons span kwalifiseer vir die Wêreldbeker-toernooi, die o. 20-Wêreldbekertoernooi en die Olimpiese spanne van Banyana Banyana.

“Ons het die span van Hlatshwayo (kaptein) wat in 2015 se Afcon-toernooi gespeel het.

“Dan het ons die span van (Motjeka) Madisha, wat in 2016 in die Olimpiese Spele gespeel het‚ en die span van Teboho Mokoena, wat deurgedring het na die Olimpiese Spele (volgende jaar) in Tokio. Dít is die generasie wat baie belangrik is om ons na ’n volgende vlak te neem.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters