27 dae gelede
Baai, Boeta Cassiem
BEKKIG: Boeta Cassiem verkoop ’n “sucker to make you wakker”.  ~ Shafiek Mouton

DIE eikeblare het vrylik geval en is verder aangehits deur ’n ligte, maar koue suidooster – glad nie ’n ideale dag vir roomys nie.

Die gemoedere was egter vuurwarm en die glimlagte breed toe Mogamat Gielmie Cassiem gister sy geliefde Nuweland kom groet het.

Die bekende en geliefde roomysverkoper, “Boeta” Cassiem, soos Wes-Kaapse sportliefhebbers hom die afgelope 55 jaar leer ken het, het as gevolg van gesondheidsuitdagings besluit om sy cooler-boks op te hang.

Tafelberg

Die Westelike Provinsie Krieketvereniging het gister ’n seremonie vir Cassiem gehad.

Dit was op die lowergroen gras van Nuweland, in die skadu van Tafelberg, wat gister met ’n wolkombers bedek was.

Die 67-jarige Cassiem het verlede jaar ’n operasie ondergaan om katarakte van sy oë te verwyder, maar sukkel nou boonop met nierver­saking. Hy is dus deur medici aangeraai om dinge rustig te vat en tuis te bly.

Ten spyte hiervan was Boeta Cassiem, ’n passievolle Manchester United-ondersteuner, gister soos gewoonlik vol grappe en staaltjies en hy het sy bekende rympies soos “ ’n sucker to make you wakker”, “a lolly to make you jolly” en “ ’n wafer to make you styfer” vir oulaas laat weerklink.

Dairymaid, Cassiem se werkgewer die afgelope 45 jaar, asook WP Krieket het spesiale geskenke en donasies aan Cassiem oorhandig, terwyl WP legendes soos JP Duminy, Eric Simons en Ashwell Prince­ hulde gebring het aan die lewende legende.

Boeta Cassiem en sy familie is daarna met ’n spesiale middagete deur WP Krieket vergas.

Prince, huidige WP-hoofafrigter, het met groot lof van “Boeta” gepraat. “Selfs toe ek hier in toetse (vir die Proteas) gekolf het, kon ek Boeta Cassiem altyd hoor en tussendeur die balle sou ek hom in die gange van die pawiljoene met sy cooler-boks sien.

“Mense in sy onmiddellike omgewing het altyd geglimlag. Hy het daai tipe energie na Nuweland gebring.

“Hy sou dikwels ook advies skree – soms goed en ander kere nie so goed nie. Ek het dit gelike as hy skree: ‘Slaan hulle, Prinsie! Slaan hulle!’ ”

Behalwe vir Prince, is Simons, Duminy en Morné Morkel sy gunsteling-krieketspelers en hy beskou wyle Chester Williams as sy gunsteling-rugbyspeler.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters