Verlede maand
‘Australië kom’
Regter Zak Yacoob  ~ Gallo Images

AUSTRALIë se kriekettoer in Suid-Afrika aan die einde van die seisoen gaan voort.

Só sê regter Zak Yacoob, voorsitter van Krieket Suid-Afrika (KSA) se tussentydse raad.

Engeland se toerspan was in November en Desember in Suid-Afrika, maar het net die helfte van sy verpligtinge nagekom nadat van die personeellede by die plek waar hulle in Kaapstad tuis was positief getoets is vir Covid-19.

Ooreengekom

Daar was geen gevalle tydens Sri Lanka se besoek in die feesgety nie, maar daar was tog vrese dat die Aussies, tradisioneel die Proteas se sterkste teenstanders, nie gemaklik sou wees daarmee om in Mzansi te toer nie.

“Ek het ongeveer ’n week gelede met die voorsitter van Cricket Australia (Earl Eddings) gesels.

“Ons was dit eens dat die toer voortgaan,” het Yacoob gister in ’n aanlyn perskonferensie gesê.

“Ons het ooreengekom dat ons gaan probeer verseker dat ons fasiliteite so goed moontlik is; so goed as wat nodig is. Ons het ooreengekom dat ons elke dag leer, maar dit is nie op grond daarvan dat ons iets verkeerds gedoen het toe Engeland hier was nie, natuurlik. Nie een van die Engelse mense is geraak nie. Dít is die slotsom.”

Yacoob verwys hier na die Engelse se gewilligheid om onder meer op die Kaapse bane gholf te speel.

Daar was ook sprake dat vals positiewe gevalle in die Engelse kamp aangemeld is.

Dit wou voorkom asof hulle nie baie gretig was om meer krieket te speel nie en toe die geleentheid hom voordoen om die hasepad te kies, het hulle nie gehuiwer nie.

Pholetsi Moseki, waarnemende uitvoerende hoof van KSA, was nes Yacoob vol vertroue dat die toer die groen lig sal kry.

“Die besonderhede sal oor ’n week of so ge­finaliseer word.”

Yacoob het tog gemaan: “Ons het ook ooreengekom dat die corona-virus só verander dat ons nie kan voorspel wat sal gebeur nie.

“As dinge skielik sleg gaan en die kenners sê dat ons dit (die toer) nie kan doen nie, sal ons nie kan nie. Ons moet bid dat dinge nie só sleg word nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters