13 dae gelede
Aussies klim ranglys, Proteas 9de
ADELAIDE, AUSTRALIA - NOVEMBER 30: David Warner of
David Warner  ~ Getty Images

VYF paaltjies deur draaibouler Nathan Lyon in Pakistan se tweede kolfbeurt het Australië gehelp om die tweede plek op die ranglys in toetskrieket in te neem. 

Die Aussies het Pakistan Maandag op die vierde dag van die spanne se tweede toets vir 239 lopies uitgeboul in Adelaide. 

Australië het daarmee saam die reeks met 2-0 gewen, nadat hy in albei toetse net een keer nodig gehad het om te kolf. 

David Warner is as spelers van die wedstryd aangewys vir sy onoorwonne marathon kolfbeurt van 335 lopies. 

Warner is ook as speler van die reeks aangewys nadat hy in die eerste toets in Brisbane ook 'n honderdtal (154) gemoker het. 

Die Suid-Afrikaanse invoerproduk van die Aussies, Marnus Labuschagne het ook met twee honderdtalle in die reeks (185 en 162) sy klas met die kolf bewys.

Lyon het Maandag met syfers van 5/69 in 25 boulbeurte die hart uit die Pakistan kolforde geruk, terwyl Mitchell Starc in Pakistan se eerste kolfbeurt die groot verwoester met boulsyfers van 6/66 was. 

Australië was vyfde op die ranglys vir toetskrieket met die aanvang van die reeks teen Pakistan. 

Intussen het Suid-Afrika, wat in September op skandelike wyse drie keer deur Indië in Indië geklop is, tot die negende plek uoitgesak het.   

Die Proteas speel gedurende Desember en Januarie in vier toetse op plaaslike bodem teen Engeland. En dit is vir verskeie onderseuners van Suid-Afrika moelik om te sien hoe die Proteas die Engelse gaan klop. 

Dit is omdat Krieket Suid-Afrika nog nie eers selectors saamgestel het vir die kies van die span nie en daar is ook nog onsekerheid oor wanneer die nuwe Direkteur van Krieket aangewys sal word.

Luidens 'n berig in die Sunday Times is die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith 'n kontrak vir die pos aangebied. 

Die jongste ranglys in toetskrieket lyk so: 1. Indië, 2. Australië, 3. Nieu-Seeland, 4. Sri Lanka, 5. Engeland, 6. Wes-Indiese Eilande, 7. Pakistan, 8. Bangladesj, 9. Suid-Afrika  


 
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters