3 maande gelede
Atlete baklei terug
BREKERS: Die Boland se o. 20-aflosspan in die 4x100 m is Jared Africa (heel links), Bradley Oliphant, Daiyaan Wyngaard en Adrian Swart.  ~ Mark Ward

WES-KAAPSE atlete het op die laaste dag van die nasionale jeugbyeenkoms in die Paarl met ’n terugvegpoging gekom wat rekord-vertonings ingesluit het.

Dit was veral die Westelike Provinsie se o. 18-naellopers Liam Buck en Luqmaan Gabier wat die manne van die Noorde in die 200 m vir mans o. 18 laat les opsê het.

Buck het indrukwekkend genael nadat hy Donderdag met die derde plek in die 100 m tevrede moes wees.

Hy het die Wes-Kaap se gouemedalje-droogte in die naellope gebreek toe hy die 200 m-titel in 21,69 sek. gewen het. Sy spanmaat Gabier was tweede in 21,76 sek.

Dit was troos vir die Kapenaars nadat die 13-jarige Naeem Jack nie daarin kon slaag om in die 110 m-hekkies vir o. 16’s te wen nie.

Gekraai

Sy sukses in die 300 m Donderdag en die uitdunne Vrydag het duidelik sy energie getap.

Jack het egter die silwermedalje met ’n tyd van 13,05 sek verower.

Werner Bezuidenhout van Gauteng het koning gekraai.

Die hoogspringer Arwen Richardson se gouemedalje-vertoning vir o. 18 vroue het grootliks bygedra tot die WP se sewende plek met 21 medaljes op die ranglys.

Die Bolandse o. 20 4x100-aflosspan van Jared Africa, Bradley Oliphant, Daiyaan Wyngaard en Adrian Swart het vir die hoogtepunt van die laaste dag van die suksesvolle byeenkoms gesorg.

Hulle het die goue medalje met ’n skitterende vertoning in 40,59 sek. gewen.

Die Bolander Christiaan Bester (o. 18 mans) het die 10 km-stapwedloop in ’n nuwe­ nasionale tyd van 45:05,51 voltooi. Die vorige rekord van 46:14,72 is in April 2002 deur Jacobus van Dyk opgestel.

Die Bolanders het derde (44) ná Noord-Gauteng (112) en Sentraal-Gauteng (61) op die medalje-ranglys geëindig.

Die mees uitstaande ver­toning van die byeenkoms is deur Phethisang Makhethe van Gauteng gelewer. Sy het ’n nuwe nasionale rekord in hamergooi vir o. 18 vroue opgestel. Makhethe het Annemie Smith se 11 jaar oue rekord van 57,17 m met 22 cm ver­beter.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters