3 maande gelede
Atleet van die Plain skitter by SA’s
WENNER: Naeem Jack (links) op pad na goud in die 400 m-hekkies vir seuns o. 16.  ~ Mark Ward

AL KON Bradley Olifant nie in die 100 m vir o. 20-atlete daarin slaag om die goue medalje te wen nie, kon Naeem Jack van Mitchells Plain die Wes-Kaap se naam hoog hou.

Jack, ’n gr. 8-leerder aan die Hoërskool Mondale, het gister op die tweede dag van Atletiek Suid-Afrika se Jeugkampioenskapsbyeenkoms in die Dal Josaphat-stadion in die Paarl die 300 m-hekkies vir seuns o. 16 in 38,19 sek. genael.

Dit was ’n opwindende wedloop deur Jack, wat die Westelike Provinsie verteenwoordig.

Hy het al by die 150 m- merk met sy indrukwekkende eindpoging begin­.

Dié jong atleet wil nou ook skoonskip maak in die 100 m-hekkies wat môre plaasvind.

Sy uitstekende vertoning het opgemaak vir Olifant en talle ander Wes-Kaapse naellopers wat deur atlete van Gauteng en KwaZulu-Natal oorheers is.

Benji Richardson van Gauteng-Noord het skitterend vertoon en die 100 m vir o. 20-atlete in 10,42 sek. gewen, met Olifant wat met die tweede plek tevrede moes wees.

Olifant het ná die wedloop verduidelik: “My tydsberekening met die wegspring het my die wedloop gekos.

Verspring

“Ek is baie teleurgesteld, maar dis nou soos sake staan. Ek sal nou kyk of die tyd aan die kwalifiseringsvereistes voldoen, anders is die seisoen verby.”

Die Bolander Kiera-Lee Abrahams het die goue medalje in die verspring vir o. 20-atlete gewen.

Ná Woensdag se uitdunne het 16 atlete aan dié item deelgeneem.

Abrahams het, nadat sy eers die top-agt gehaal het, met ’n asemrowende sprong van 5,82 m gewen.

Ná gister se program is Noord-Gauteng (32) en Sentraal-Gauteng (20) in die eerste en tweede plek op die medalje-ranglys, gevolg deur Boland met 17 medaljes.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters