Verlede maand
Assistent-afrigters kry binnekort ook kans
Spanwerk: Rito Hlungwani, John Dobson en Labeeb Levy gesels saam.  ~ Gallo IMAGES

JOHN Dobson, die Stormers se breier, het gister bevestig die span se hulpafrigters sal in die voorseisoen op ’n rotasiebasis die leisels van die span neem.

Volgens Dobson sal Rito Hlungwani, voorspeler-afrigter, in beheer wees van die oefensessies in die opbou na die voorbereidingswedstryd wat volgende week in Kimberley teen Griekwas plaasvind.

Die Stormers se vaardigheidsafrigter, Labeeb Levy, en die agterlynafrigter, Dawie Snyman, sal ook regdeur die voorbereidingsreeks sulke geleenthede kry.

Dobson het gister gesê: “Ek sal steeds betrokke wees by die afrigting en toesig hou oor die span in my afdeling van die spel.

“Soveel as wat ons diepte en geleenthede vir ons spelers wil opbou, geld dieselfde vir die afrigtingspan. Ons wil geleenthede vir hierdie ouens skep en die afrigters ontwikkel.

Insig

“Ek gaan nog volgende week verantwoordelikheid neem vir die span se vertoning. Daar is dinge waaraan hulpafrigters nie blootgestel word nie, of dit nou is om ’n speler te kies of te drop, op ’n oefensessie af te teken of met die span te praat en die week se temas te bepaal.

“Dis nie ’n universiteitskursus vir ’n man soos Rito nie. Dis om hom en die ander afrigters ervaring en insig te gee in wat ek doen. Dis goeie ervaring wat hy kan opdoen.”

Dobson gaan voort: “Dis nie iets wat ons gewoonlik in ’n normale kompetisie kan doen nie. Soos julle weet, is dit ’n voorbereidingsreeks en is daar geen log of beker nie. Daar is egter steeds baie druk, wat ’n goeie ding is.”

Dis ’n soortgelyke skuif as wat die Lions in die voorseisoen gedoen het. Laas week het hulle bevestig die o. 21-hoofafrigter, Mziwakhe Nkosi, gaan beheer oor die span neem terwyl die hoofafrigter, Ivan van Rooyen, toesig hou oor sake.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters