2 maande gelede
ASA se room in aksie
Lythe PillayFoto: ROGER SEDRES  ~ 

SUID-AFRIKA se beste atlete gaan vandag met ’n paar internasionale sterre kragte meet.

Dít by die eerste been van Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Athletix-byeenkoms vir uitgenooide atlete.

Die byeenkoms wat deur die borg Avanti aangebied word, vind vandag in die Ruimsig-atletiekstadion in Roodepoort plaas. Die aksie is regstreeks op SABC te sien.

Nadat die Covid-19-pandemie atletiek in die Reënboognasie tot ’n stilstand gebring het, gaan die hoogtepunt van vanaand se aksie beslis die 100 m vir mans wees.

Akani Simbine, nasionale rekordhouer en Statebondspele-kampioen, sal as die gunsteling in die blokke sak.

Hy sal egter op sy beste moet wees om die aanslag van ’n paar van die land se voorste spoedvrate af te weer.

Benewens Luxolo Adams – wat laas week 10,07 sekondes met ’n stertwind van 2,1 m/s in Potchefstroom geklok het – sal die 19-jarige Sinesipho Dambile ook die kampioen tot die uiterste beproef.

Dambile het in 2019 ’n silwermedalje in die 4x200 m by die World Relays in Yokohama gewen.

Die vonke gaan ook behoorlik in die 400 m-wedloop vir mans spat.

Isaac Makwala van Bo­tswana gaan sake uitspook met die 18-jarige opkomende ster Lythe Pillay.

Pillay het laas week in Boksburg 45,53 geklok. Hy gaan in ’n hewige stryd gewikkel wees met Makwala, die huidige Statebondspele-kampioen.

Spiesgooi

Makwala se landgenoot en voormalige wêreldkampioen Amantle Montsho gaan haar stempel in die 400 m vir vroue wil afdruk.

Montsho (37) gaan egter haar hande vol hê teen die 17-jarige Beatrice Masilingi, wat laas jaar die Namibiese nasionale titels in die 100 m, 200 m en 400 m gewen het.

In die spiesgooi vir vroue sal Sunette Viljoen gretig wees om op haar goeie peil voort te bou. Sy het reeds vroeër in dié seisoen ’n afstand van 60,60 m behaal.

Viljoen (37) gaan in ’n stryd gewikkel wees met Nikola Ogrodníková en Nikol Tabacková van die Tsjeggiese Republiek. Ogrodníková het in 2018 ’n silwer op die Europese byeenkoms gewen met ’n gooi van 67,40. Tabacková het in 2017 ’n goue medalje op die o. 20-byeenkoms in Europa gewen. Die volgende byeenkoms in die reeks van twee is volgende Dinsdag, ook in Roodepoort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters