21 dae gelede
Appels nou amptelik 'n Bul
aplon
Gio Aplon  ~ Gallo Images

DIS amptelik!

Gio Aplon, voormalige liefling van Nuweland, is ’n Blou Bul.

Son het verlede week berig dat die 37-jarige boorling van Hawston sy rugby by Loftus Versveld gaan voortsit ná hy die afgelope drie jaar vir die Toyota Verblitz in Japan gespeel het.

Dit was juis Jake White, die Bulls se direkteur van rugby wat Aplon vir Verblitz vanaf die Franse klub, Grenoble, gewerf het.

Aplon sal hom volgende maand by die span aansluit of sodra hy weer na Suid-Afrika vanaf Japan kan reis.

Aplon was ‘n nemesis van sy nuwe span toe hy in die kleure van die Stormers en die Westelike Provinsie gespeel het. Hy het gestalte gegee aan die uitdrukking "grootte maak nie saak nie" met sy ontploffende snelheid en vinnige voete.

Aplon het saam manne soos Breyton Paulse en Brent Russell die weg gebaan vir iemand soos Cheslin Kolbe, ook ’n buksie, maar nou een van die beste spelers in die wêreld.

Daar is geen twyfel dat sy ervaring en ongelooflike vaardighede nie net die span sal bevoordeel nie, maar ook sal help met die verdere ontwikkeling van die opwindende jongelinge.

Luidens die Bulle se webwerf sê Aplon: “Die Bulle was nog altyd ’n formidabele mag in die rugbywêreld.

“Ek het nog altyd baie respek gehad vir die handelsmerk en wat dit bereik het. Ek sien uit daarna om op Loftus uit te hardloop.

“Coach Jake het ’n ongelooflike visie en plan vir die span en ek is net geëerd dat hy my as deel daarvan wil hê.

“Ek sien uit daarna om die Bulls-familie trots te maak.”


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters