5 maande gelede
Amper tyd vir die grote
meesterlik: Paul Pogba was weer op sy stukke. Hy het twee doele vir Manchester United aangeteken. Foto: REUTERS  ~ 

OOR net minder as twee weke takel die grootste vyande in Engelse­ sokker, Manchester United en Liverpool, mekaar.

Dis nog ’n rukkie, maar die bekskote het reeds begin klap in die sielkundige oorlog tussen dié spanne se ondersteuners.

Die aartsvyande pak mekaar op 24 Februarie op Old Trafford, en die fans kan nie wag vir dié stryd in die Engelse Premier­liga (EPL) nie.

Albei spanne het Saterdag skitterende oorwinnings van 3-0 behaal en sal voor die groot EPL-stryd eers Champions League­-wedstryde speel.

Manchester United pak die Franse reus Paris Saint-Germain môre en Liverpool speel volgende week teen die Duitse powerhouse Bayern Munich.

Sedert Ole Gunnar Solskjaer die leisels by Man United oorgeneem het, het die span 10 van sy 11 wedstryde gewen; die uit­sondering was ’n gelykop uitslag.

Dit sal Liverpool fans natuurlik groot vreugde bied as die Reds dié lopie beëindig.

Liverpool is op sy beurt skitterend op dreef en voer tans ’n hewige stryd met Manchester City om die EPL-titel.

Die span van Anfield het nog nooit dié gesogte titel verower nie. United se seisoen sal baie beter lyk as hy verhinder dat Jürgen Klopp se span dit ver­ower.

Vir albei spanne se ondersteuners is geen wedstryd belang­riker as dié een nie.

En aangesien daar soveel vir albei spanne op die spel is, word ’n vurige stryd in die Theatre of Dreams voorsien.

Liverpool strewe desperaat na EPL-glorie en noudat die gevaarlike Mo Salah en Sadio Mané deesdae weer skitterend speel, sal die Reds vol self­vertroue op Old Trafford uitdraf.

Maar Solskjaer het dit reggekry om die beste uit spelers soos Paul Pogba, Anthony Martial en Marcus Rashford te put.

Dit gaan nogal interessant wees om te sien hoe die hoog aangeskrewe verdediger van Liverpool, Virgil van Dijk, dié manne hanteer.

Top-vier

Man United voer ’n hewige stryd met Chelsea en Arsenal om die laaste Champions League-posisie vir volgende seisoen.

Dis dus belangrik vir die Red Devils dat hulle die seisoen onder die top-vier eindig.

United (22 titels) en Liverpool (18) is die suksesvolste klubs in Engelse sokker.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters