13 dae gelede
Ambisie vir sukses
Junaid Sait  ~ Backpagepix

DALK is dit die druk dat hy in sy pa se spore moet volg – ’n mandaat wat hy persoonlik opvat. Dalk nie.

Dalk kan dit juis sulke verwagtings wees wat die druk ook massief laat toeneem het en straks sy vordering gestuit het.

Miskien is dit nie een van dié sentimente nie.

Miskien gaan dit eerder oor ’n Kaapse laitie wat sokker geniet en gebruik wil maak van sy talente ná ’n verlede van highs, maar ook baie lows.

Dekade

Swallows se Junaid Sait, seun van die voor­malige Santos- en Orlando Pirates-speler Kamaal, het dalk die perfekte tuiste gevind onder die vlerk van Swallows se coach, Brandon Truter.

Die 27-jarige Sait, wat ná meer as ’n dekade op die scene sy eerste PSL-beroepsdoel aangeteken het, het sy coach uitgesonder as die geheim agter sy sukses.

Sait is ook ’n speler na wie jonges kan opkyk omdat hy nie maklik tou opgooi as dinge in sy loopbaan nie na wense verloop nie.

Hy sê: “Die geloof en vertroue wat die coach in jou as speler plaas, laat jou voel jy wil enige iets vir hom doen, selfs deur mure hardloop.”

Die veelsydige speler voeg by: “Ek steur my nie baie aan die trivial dinge nie.

“Ek wil elke dag hard werk op die oefenveld en my bes gee op match days wanneer ek die geleentheid kry.”

Swallows is steeds onoorwonne ná 10 wedstryde en is nog binne trefafstand van die kampioenspan en voor­loper, Mamelodi Sundowns.

Sait reken daar is nog ’n baie lang pad voor en dit is belangrik om altyd nederig te bly.

“Wat ons tot dusver bereik het, is fantasties, maar dinge kan ook baie gou verander. Dis waarom ons gefokus en honger moet bly,” aldus Sait.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters