DIE wêreld se vinnigste man oor 400 m, Wayde van Niekerk, kan nou ook ’n ambassadeur genoem word.
Die Laureus Sport for Good-stigting het Van Niekerk gister as een van dié organisasie se ambassadeurs onthul.
Hy sluit hom aan by ander Suid-Afrikaners soos die Banyana Banyana-afrigter Desiree Ellis, Jean de Villiers (voormalige Springbok-kaptein), Amanda Dlamini (sokkerspeler) en nog twee Springbokke, Corné Krige en Bryan Habana.
Merkwaardig
Dié boorling van Kraaifontein het in 2016 die wêreldrekord oor 400 m verbeter en sodoende goud by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië, gewen.
Morné du Plessis, voorsitter vir Laureus Sport for Good, sê: “Ons is bly om Wayde amptelik in die Laureus-familie te verwelkom.
“Dit is merkwaardig om sy opgang in wêreldsport te aanskou en die impak wat hy reeds gemaak het deur jong en oud Suid-Afrikaners te inspireer.
“Hy het regdeur sy loopbaan groot karakter getoon, op en van die atletiekbaan, en ons sien uit daarna om met hom te werk om gemeenskappe regoor Suid-Afrika op te hef.”
Van Niekerk sê: “Ek is geëerd om lid te word van die Laureus-familie en my aan te sluit by ’n uitgesoekte groep sportmanne en -vroue wat ook ambassadeurs vir dié globale organisasie is.
“Laureus doen fantastiese werk met die opheffing van gemeenskappe deur sport te vier en Suid-Afrikaanse lewens te transformeer.”