4 dae gelede
All Blacks weer span van ouds
hier kom ’n ding: Philip Snyman en Andrew Knewstubb kruis Saterdag swaarde in groep A van die Kaapstad-toernooi. Foto: JONATHAN LESTRADE  ~ 

NIEU-SEELAND is besig om weer ’n sewesrugbykrag te word.

Nee, dis nie ’n All Black-ondersteuner wat dié statement maak nie, maar die Blitsbok-afrigter, Neil Powell.

Powell, wat die Blitsbokke tot twee agtereenvolgende Wêreldreekstitels afgerig het, sê hy sien reeds geruime tyd hoe die All Black-span besig is om sy verlore sewes-mojo terug te vind.

“Ek dink ek het voor die afskop van die seisoen al gesê hulle gaan die span wees om te klop,” het Powell gesê.

“Hulle het laas jaar al glimpses begin wys dat hulle weer op koers is deur eers hier in Kaap en toe die Statebondspele en Wêreldbeker-toernooi (vroeër vanjaar) te wen.”

Die Kiwi’s het in vorige seisoene begin agteruitboer, met die laaste van hulle 12 Wêreldreeks-titels in die 2013-’14-seisoen.

Hulle het ook skandes gemaak in 2016 se Olimpiese Spele toe Japan hulle in die groepfase geklop het en toe in die kwarteindronde in Rio de Janeiro deur Groot-Brittanje uitgeskakel is.

Maar vir die All Blacks om regtig te wys hulle is terug, meen Powell sal hulle moet kan bewys dat hulle laas week se Dubai-titel met nóg ’n suksesvolle veldtog in die Kaapstad-stadion kan opvolg.

Volgens Andrew Knew­stubb, spelskepper en kaptein vir die naweek se toernooi, is daar hard in die All Blacks se voorseisoen gewerk om seker te maak hulle word weer ’n wêreldkrag in sewes.

Loting

En soos die ironie dit het, gaan die All Blacks se credentials al Saterdagaand deur die ou aartsvyand, onse Blitsbokke, getoets word.

Dié spanne pak mekaar in die laaste wedstryd van die eerste dag se groepfase – met die wenner wat heel moontlik as die topgekeurde span uit groep A ’n beter loting vir die kwarteindronde sal hê.

Knewstubb meen dit gaan ’n wedstryd vol emosie wees, met groot tuisondersteuning wat natuurlik weereens vir die Blitsbokke verwag word.

“Ons besef daar gaan ’n begeesterde en passievolle skare wees. Ons sal op ons beste moet wees as ons hulle wil klop.

“Hulle was ’n bietjie ongelukkig laas week en hulle sal hier in hulle tuistoernooi daarvoor wil opmaak,” het Knewstubb aan Son gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters