8 dae gelede
Akani kan vinniger
Akani Simbine  ~ Gallo Images

AKANI Simbine, Suid-Afrika se 100 m-rekordhouer, is vanaand een van die gunstelinge in die derde been van World Athletics se Diamond League-reeks in Florence, Italië.

Simbine het die 100 m in April by Atletiek Suid-Afrika se Senior Kampioenskapsbyeenkoms in Tshwane in 9.99 sekondes afgeblits.

Hy’s een van net drie atlete om die 100 m vanjaar onder 10 sek. te hardloop.

Simbine sal moet uithaal teen ’n veld wat Arthur Cissé (Ivoorkus) insluit. Hy was tweede agter Simbine in 2018 se Afrika- byeenkoms in Asaba, Nigerië.

Lamont Marcell Jacobs (Italië), die Europese binnenshuise kampioen oor 60 m, en Brittanje se Chijindu Ujah sal die ander vernaamste uitdagers wees.

Intussen sal Wenda Nel, bronsmedaljewenner by die laaste Statebondspele, graag wil voortbou op haar terugkeer na die 400 m-hekkieswedloop vir vroue.

Uitdaging

Sy sal die blokke betree, saam met die Olimpiese silwermedaljewenner Sara Petersen van Denemarke en die Nederlander Femke Bol.

Zakithi Nene, die nasionale 400 m-kampioen, wat ’n seisoen-beste van 45.03 behaal het, is die derde vinnigste man vanjaar in dié item.

Hy sal ’n sterk uitdaging kry van die Statebondspele-kampioen Isaac Makwala van Botswana, en die silwermedaljewenner van die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms, Anthony José Zambrano van Colombië.

“Ons verwelkom elke geleentheid wat ons atlete kry om te kompeteer,” aldus James­ Moloi, ASA-president.

Skedule vir SA atlete:

20:33: 400 m-hekkies vir vroue (Wenda Nel)

20:43: 400 m vir mans (Zakithi Nene)

21:48: 100 m vir mans (Akani Simbine).

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters